Mosaiek Lydenstydgids: Jesus se vrae in lydingVoorbeeld
"En Hy sê vir hulle: Wat slaap julle? Staan op en bid, dat julle nie in versoeking kom nie"
- Lukas 22:46 (AFR53).
Die rede waarom Jesus wil hê hulle moet wakker word, is nie omdat Hy iets teen slaap het nie. Hy wil iets meer as ‘n fisiese wakkerword van hulle hê. Hy wil hê dat hulle bewus moet wees van wat regtig aan die gang is en hulle sal net daarby uitkom deur nou, in hierdie omstandighede, die fisiese slaap te beveg. As jy slaap, verloor jy bewussyn. Daarom word slaap ook gekoppel aan die dood. Daar word na die dood verwys as om te "ontslaap". Paulus gee die opdrag “Ontwaak jy wat slaap, staan op uit die dood uit …” (Efesiërs 5:14 AFR53). Ons kan fisies wakker wees, soos die Efesiërs met wie Paulus gepraat het, maar geestelik vas aan die slaap. Ons kan slaapwandelaars wees. ("... laat ons waak en nugter wees" (1 Tessalonisense 5 AFR53). Jesus nooi ons uit om saam met Hom wakker te word en wakker te bly. Hy is wawyd wakker. Bewus van wat regtig aan die gang is, van die Vader se werk in hierdie omstandighede wat lyk asof alles gaan verkeerd loop en sleg is. Die lewe is so anders as jy in oënskynlike haglike omstandighede van Hom bewus bly. Dit is die lewe … “Your life is a journey you must travel with a deep consciousness of God.” Ons kan ons lewe in ‘n psigotiese mistigheid deurbring – in ‘n bewussynstoestand tussen slaap en wakker waar ons nie met die werklikheid in kontak is nie en niks regtig eg is of betekenis vir ons het nie. Soos ‘n klein babatjie kan ons in die mooiste natuurtoneel wees en ons in die mooiste omstandighede bevind, maar salig onbewus wees van wat regtig om ons aan die gang is en met toe oë aan ons bottel suig.
Refleksie: Begin die dag deur Hom te vra om genade vir ‘n diep bewussyn van sy teenwoordigheid in jou lewe. Herhaal die gebed so dikwels as wat jy deur die dag daaraan dink. Eindig die dag met nadenke en let op wanneer jy deur die dag ‘n bewussyn van sy teenwoordigheid beleef het.
Gebed: Ek vra om genade vir ‘n diep bewussyn van sy teenwoordigheid in my lewe.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Wat beteken ‘n lydingservaring vir jou? Hoe sou jy dit in ‘n paar woorde beskryf? Vir Jesus was dit ‘n reis van lyding en sterfte op pad na opstanding. Vir ons as gelowiges is lyding ‘n reis om Hom te ken en die krag van sy opstanding te ondervind deur te deel in sy lyding, en só aan Hom gelyk te word in sy dood. Tydens hierdie reis deur Lydenstyd, bring ons 40 dae deur met die vrae wat Jesus in die laaste dae van sy lewe gevra het.
More
Ons wil graag Mosaiek bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: mosaiek.com