Mosaiek Lydenstydgids: Jesus se vrae in lydingVoorbeeld
"En Hy sê vir hulle: Wat slaap julle? Staan op en bid, dat julle nie in versoeking kom nie"
- Lukas 22:46 (AFR53).
In die skepping is daar verskillende bestaansvorme. Ons het grond en water (molekules), plante (eensellige lewensorganismes), diere (meersellige lewensorganismes) en mense. Ons kan dalk ook praat van verskillende lewensvlakke. Een vlak is nie beter as ‘n ander vlak nie, maar is wel anders. Daar is meer sensasie, bewussyn en ‘n groter vorm van lewe soos wat daar na hoër vlakke beweeg word – van grond af na menswees. Diere het byvoorbeeld vyf sintuie en het meer bewussyn as plante. So deel ons as mense soveel met diere (bly saam, sorg vir mekaar, speel, ens.) maar ons het 'n bewussyn van die "self", wat diere nie het nie. Ons het ‘n rasionele vermoë om te kan nadink, te droom en te kan praat. Ons hoef nie net instinktief op te tree nie, maar kan besluit tussen reg en verkeerd. Ons besit selfkennis met ‘n bewussyn van die ewige. Ons kan ook aan die slaap wees en soos zombies deur die lewe gaan (bv. Day of the living dead). Ons kan dan meer soos diere lewe en deur ons basiese behoeftes aan kos, seks en oorlewing (dominansie) gemotiveer word. ‘n Laer vlak van lewe is gewoonlik nie lewe vir ‘n hoër vlak van lewe nie. 'n Gedeelte van ons ontwaking is om bewus te word van wie ons is. Om iets van die wonderlike groot potensiaal wat in ons opgesluit is te ontdek. Gewoonlik gaan dit gepaard met ‘n begeerte om ten volle mens te word. Dit is ‘n wakkerword met ‘n bewussyn van 'n lewe saam met Hom en alles wat bestaan.
‘n Dier kyk na ‘n plant met die instink om dit te eet of nie. Ons kyk na die lelie en word meegevoer deur ‘n groter bewussyn van die Skepper.
Refleksie: Kyk vir ‘n oomblik by die venster uit en neem die verskillende skeppingsvorme waar. Dink aan wie jy is … jy kan aanvoel dat jy deel is van alles … maar dat alles in iets – Iemand groter saamgevat word. Sit net met die bewussyn, aanvoeling, sonder om daaroor na te dink. Deur die verloop van die dag kan jy bely – Hy is in alles – alles is in Hom.
Gebed: Ek vra om genade vir ‘n diep bewussyn van sy teenwoordigheid in my lewe.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Wat beteken ‘n lydingservaring vir jou? Hoe sou jy dit in ‘n paar woorde beskryf? Vir Jesus was dit ‘n reis van lyding en sterfte op pad na opstanding. Vir ons as gelowiges is lyding ‘n reis om Hom te ken en die krag van sy opstanding te ondervind deur te deel in sy lyding, en só aan Hom gelyk te word in sy dood. Tydens hierdie reis deur Lydenstyd, bring ons 40 dae deur met die vrae wat Jesus in die laaste dae van sy lewe gevra het.
More
Ons wil graag Mosaiek bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: mosaiek.com