Mosaiek Lydenstydgids: Jesus se vrae in lydingVoorbeeld
"En Hy sê vir hulle: Wat slaap julle? Staan op en bid, dat julle nie in versoeking kom nie"
- Lukas 22:46 (AFR53).
Die dissipels raak aan die slaap weens hulle droefheid. Hulle hoor en sien die einde nader kom. Hulle is onbewus (aan die slaap) van iets groters wat gebeur. Die werk van verlossing is besig om plaas te vind. Jesus nooi hulle ‘n paar keer uit om saam met Hom te waak en te bid sodat hulle bewus kan raak van die groter werklikheid. Die onsigbare. As jy bewus raak, verander alles. Die droefheid en moedeloosheid kan vervang word met sin en hoop.
Ons almal lewe eintlik met ‘n groot onsigbare dimensie waarvan ons bewus moet word en wat ons moet vertrou. In verhoudings gaan dit nie net om die fisieke teenwoordigheid en kontak met die persoon nie. Dit gaan ook oor die ander persoon se gevoelens, idees en begeertes. As ons dit nie kan sien nie, kan ons nie ‘n lewegewende verhouding tot stand bring of behou nie. Ons moet daarvan bewus raak, dit vertrou en in ag neem as deel van die werklikheid, al is dit onsigbaar.
So is daar ‘n dieper dimensie van alles wat bestaan en gebeur. Vir ons as Christene is dit God. Ons kan Hom vind in ons voorspoed, in teenspoed, moedeloosheid en hoop. Hy is nie net werksaam in ons lewe nie, Hy is altyd daar. Augustinus het gesê Hy is nader aan ons as wat ons asem is. Sonder ’n aanvaarding, ‘n vertroue, ‘n bewussyn van hierdie dimensie van realiteit, oorval die droefheid ons en word ons slaap ‘n ontvlugting. Ons ontwikkel dikwels soveel maniere van ontvlugting wat ons aan die slaap maak, verdoof en wegneem van die lewe se pyn en hartseer. Jesus nooi sy dissipels uit om wakker te word – die werklikheid in die oë te staar – verder, dieper te kyk na Hom wat daar is. Werksaam, ten spyte van alles wat skeef loop. Negatiewe energie van droefheid kan omgesit word in hoop.
Refleksie: Vestig jou aandag vir ‘n oomblik op die grootste uitdaging waarmee jy nou te kampe het.
- Vra jouself af of jy let op dit wat fisies waarneembaar is. Let ook op hoe dit jou laat voel.
Neem waar wat met jou gebeur en hoe dit jou laat voel. Let op wat jy dink en hoe jy dit wat gebeur interpreteer. - Gee wat jy voel en dink nou vir Hom en vra Hom om jou van sy teenwoordigheid in hierdie omstandighede bewus te maak. (Jy kan dit ook verwoord in ‘n brief wat jy aan Hom skryf).
Gebed: Ek vra om genade vir ‘n diep bewussyn van sy teenwoordigheid in my lewe.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Wat beteken ‘n lydingservaring vir jou? Hoe sou jy dit in ‘n paar woorde beskryf? Vir Jesus was dit ‘n reis van lyding en sterfte op pad na opstanding. Vir ons as gelowiges is lyding ‘n reis om Hom te ken en die krag van sy opstanding te ondervind deur te deel in sy lyding, en só aan Hom gelyk te word in sy dood. Tydens hierdie reis deur Lydenstyd, bring ons 40 dae deur met die vrae wat Jesus in die laaste dae van sy lewe gevra het.
More
Ons wil graag Mosaiek bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: mosaiek.com