Wees Bly - Vier die AdventtydVoorbeeld
Week 2: Simeon se lied
Die herstel
Lees: Lukas 2:25-32; Jesaja 61:1-3; Psalm 147:1-3
SOAP: Psalm 147:3
“Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde.”
Oordenking
Baie mense in die Ou Testament het gewag vir die Verlosser wat God na die wêreld sou stuur. Hy het dit aanvanklik in Genesis 3:15 aangekondig en baie meer kere deur die volgende eeue. Toe Eva se eerste seun gebore is, het sy seker gewonder of dit die beloofde een was. Kain het egter die moordenaar van sy broer Abel geword.
Hierdie afwagting en wag het deur die geskiedenis van God se volk voortgeduur. Die aartsvader, Jakob, het gesmag na hierdie Verlosser. Terwyl hy besig was om te sterwe, het hy uitgeroep: “Ek wag dat U red, Here” (Genesis 49:18). En die profeet Jesaja het ongeduldig gebid: “As U maar die hemel wou oopskeur en wou afkom” (Jesaja 64:1). Baie het God se Woord oor 'n komende verlosser ontvang en almal het gesterf terwyl hulle op die beloofde Een gewag het.
Almal behalwe een: ou Simeon. Hy het ook baie jare gewag dat God se belofte vervul sou word. Stel jou voor hoe sy interaksies met sy vriende was: “Simeon, jy lyk altyd of jy vir iets wag. Wat is dit?" “O ja, ek wag. Nie vir iets nie, maar vir iemand. Ek wag vir die een wat herstel en vertroosting aan ons mense sal bring.”
Simeon was 'n man wat geweet het dat sy mense vertroosting nodig het. God het hom die toestand van die menslike hart gewys met sy diepe hartseer, skuldgevoelens, afguns, trots, honger na goedkeuring, vrees vir mislukking en behoefte aan liefde – in een woord: gebrokenheid. Simeon het geweet dat vertroosting en ware herstellende krag nie gevind kon word in enige persoon uit vroeëre geslagte of enigiemand wat hy gedurende sy lewe ontmoet het nie. Maar nou, uiteindelik, is hy toegelaat om die een te sien waarvan God hom vertel het. Met diepe blydskap het hy die baba, God se Seun, in sy arms gehou en verkondig: “My oë het u verlossing gesien!”
Wat van ons? Ons hoef nie meer te wag nie. Jesus het gekom. Ons kan eenvoudig die deur van ons harte oopmaak en Jesus inlaat. Jesus, die trooster, die een wat ons gebroke harte kan genees, die een wat deur God gestuur is om vir ons herstel te bring, is nou by ons in ons pyn. Hy help ons dag na dag totdat ons Hom eendag in die hemel sal sien waar ons nooit weer enige hartseer sal ervaar nie.
Gebed
Here, U sien my gebroke hart, U sien my hartseer, U weet hoe nodig ek u vertroosting het. Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Het jy al ooit gewonder waarom ons gedurende die Adventtyd so baie jubel en sing? Die eerste liedere oor die geboorte van ons Verlosser is in die evangelie van Lukas opgeteken en is deur eerste-eeuse Jode gesing - Maria, Sagaria, Simeon asook 'n wonderlike engelekoor. Ons gaan vir vier weke luister hoe hierdie toegewyde Jode en die engele aan hulle blydskap uitdrukking gegee het met die geboorte van die langverwagte Messias.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://afrikaans.lovegodgreatly.com/