Wees Bly - Vier die AdventtydVoorbeeld

Wees Bly - Vier die Adventtyd

DAG 14 VAN 29

Kind van God se raadsbesluit

Lees: Lukas 2:28-35; Jesaja 8:14-15; Johannes 3:18-21

SOAP: Lukas 2:34-35

"Simeon het hulle geseën en vir Maria, sy moeder, gesê: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot 'n val en 'n opstanding van baie in Israel en tot 'n teken wat weerspreek sal word. So sal die gesindheid van baie mense aan die lig kom. En wat jou betref, 'n swaard sal deur jou siel gaan.”

Oordenking

Simeon was 'n man wat vir een doel gelewe het: om die Messias te sien. Noudat hy Hom gesien het, was hy heeltemal tevrede en gereed om te sterf. Hy het getrou getuig dat Jesus die Verlosser van die wêreld is. Maria en Josef moes hulle verheug het oor die wonderlike dinge wat oor hulle seun geprofeteer is.

Tog het die Heilige Gees 'n paar harde woorde deur Simeon gespreek, woorde wat Maria en Josef waarskynlik nie wou hoor nie. Hulle kind sou “die oorsaak wees van die val en opstanding van baie”. Net soos Jesaja geprofeteer het, sou Jesus 'n heiligdom wees, 'n plek van kosbare toevlug vir sommige. Vir ander sou Hy 'n verpletterende steen wees. Hy sou sommige verhef om kinders van God te word en aan hulle die ewige heerlikheid in die hemel te gee. Ander sou in ewige straf en rampspoed verval as gevolg van hulle ongeloof.

Jesus sou ook “’n teken wees wat verwerp sal word”. Tydens sy lewe op aarde is Hy gewelddadig teëgestaan, betwis en selfs tereggestel. Deur die geskiedenis heen is Jesus se naam gehaat en bespot. Sy volgelinge is bespot, vervolg en vermoor.

Jesus is die groot verdeler. Hy is die punt waarop 'n hart geopenbaar kan word. Die antwoord op die vraag "Wat glo jy van Jesus Christus?" is die belangrikste vraag wat 'n persoon kan beantwoord. Dit openbaar wie jy werklik is en bepaal jou ewige lot. Diegene wat nie Jesus as Verlosser en Here het nie, wys dat hulle nie aan God behoort nie.

Wat saak maak, is nie dat ons "een of ander" soort geloof het nie. Wat saak maak, is dat ons die regte soort geloof het. Om in Krishna, Boeddha, Allah of 'n ander hoër mag te glo, sal ons nie red nie. Om egter in Jesus te glo, al ons vertroue in Hom te plaas as ons sondedraer en voorsiener van geregtigheid, sal ons God se kinders maak. Ons sal 'n veilige plek in die hemel hê. Dit is nie 'n gewilde geloof in ons moderne wêreld nie, maar dit is die manier wat God gekies het. Die klein baba in Simeon se arms is waarlik die kind van God se Raadsbesluit. Alles – werklik alles – hang af van wat ons met Hom doen.

Gebed

Here Jesus, U is kosbaar vir my. Dankie dat U Uself aan my openbaar het. Help my asseblief om U met moed aan ander bekend te maak. Amen.

Dag 13Dag 15

Aangaande hierdie leesplan

Wees Bly - Vier die Adventtyd

Het jy al ooit gewonder waarom ons gedurende die Adventtyd so baie jubel en sing? Die eerste liedere oor die geboorte van ons Verlosser is in die evangelie van Lukas opgeteken en is deur eerste-eeuse Jode gesing - Maria, Sagaria, Simeon asook 'n wonderlike engelekoor. Ons gaan vir vier weke luister hoe hierdie toegewyde Jode en die engele aan hulle blydskap uitdrukking gegee het met die geboorte van die langverwagte Messias.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://afrikaans.lovegodgreatly.com/