Wees Bly - Vier die AdventtydVoorbeeld
Heilig is sy Naam
Lees: Lukas 1:46-49; Matteus 11:25-30; 1 Korinthiërs 1:18-31
SOAP: Lukas 1:48-49
“... omdat Hy na my in my geringheid omgesien het. Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem, omdat Hy wat magtig is, groot dinge aan my gedoen het. Heilig is sy Naam!”
Oordenking
Maria het oor God se ongelooflike mag en heiligheid gepeins. God is verhewe bo alles, Hy is heilig en is geskei van wat gewoon is.
Wanneer die Bybel van God se heiligheid praat, verwys dit na sy grootheid en sy morele volmaaktheid. God is anders as ons omdat sy hart en wil volkome goed, reg en lieflik is. God lieg nie vir ons of bedrieg ons nie. Hy is heeltemal eerbaar. God verbreek nie sy beloftes nie. Hy is heeltemal getrou. God sien onreg raak. Hy is totaal onpartydig en regverdig. God is nie suinig en gemeen nie. Hy loop oor van liefde, barmhartigheid, vrygewigheid en vriendelikheid. God is heilig, wat beteken dat Hy hoog bo ons verhewe is en in 'n klas van sy eie. Hy is heeltemal uniek mooi. Hy is van oneindige waarde. Selfs al hierdie beskrywings kan nie die heiligheid van God volledig beskryf nie.
In plaas daarvan om bang te wees vir hierdie magtige, verhewe en heilige God, was Maria geboei deur sy skoonheid en vervul met vreugde in sy teenwoordigheid. Sy grootheid het Hom nie daarvan weerhou om groot dinge vir haar te doen nie. God kon die dogter van die koning of hoëpriester gekies het om geboorte te gee aan Jesus. Hy kon 'n meisie gekies het wat ryk, mooi, opgevoed en bewonder was, maar anders as ons, is God nie beïndruk deur hierdie eienskappe nie. Maria sê self dat sy van 'n "nederige toestand" was, wat beteken dat sy waarskynlik 'n niemand in haar gemeenskap was wat deur die belangrike mense oor die hoof gesien is, 'n onbeduidende dienaar. Tog het die heilige God haar, 'n meisie van Nasaret, gekies om die moeder van die Messias te wees. Maria was verbaas dat God so groot is en tog iemand so laag soos sy sou sien.
Het jy, soos Maria, besef hoe verhewe en heilig God is? Weet jy hoe klein en sondig jy in vergelyking is en hoeveel barmhartigheid en genade Hy oor jou uitgestort het deur sy Seun, Jesus Christus? Dink daaraan: die oneindig groot en volmaakte God het jou gekies om sy geliefde dissipel te wees. Hy het jou uit jou sonde en verdorwenheid opgehef. Hy het jou die ewige heerlikheid in die hemel belowe deur jou geloof in Jesus. Jy het groot waarde vir Hom en Hy het jou oneindig lief. Mag ons soos Maria, ons in God se heiligheid verheug.
Gebed
Here Jesus, U is so hoog bo my in grootheid en reinheid, tog het U my lief. U is nie net magtig nie, maar U is ook goed. Heilige God, ek dank U. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Het jy al ooit gewonder waarom ons gedurende die Adventtyd so baie jubel en sing? Die eerste liedere oor die geboorte van ons Verlosser is in die evangelie van Lukas opgeteken en is deur eerste-eeuse Jode gesing - Maria, Sagaria, Simeon asook 'n wonderlike engelekoor. Ons gaan vir vier weke luister hoe hierdie toegewyde Jode en die engele aan hulle blydskap uitdrukking gegee het met die geboorte van die langverwagte Messias.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://afrikaans.lovegodgreatly.com/