Wees Bly - Vier die AdventtydVoorbeeld
Welkom by ons Bybelstudie: Wees Bly - Vier die Adventtyd.
Het jy al ooit gewonder waarom ons gedurende die Adventseisoen so baie jubel en sing? In kerke regoor die wêreld, in baie verskillende tale en deur die eeue heen, is tallose Kersliedere al gesing. Om die waarheid te sê, oor niemand anders in die geskiedenis se geboorte is al so baie liedere geskryf as Jesus van Nasaret nie. Nie eens naastenby nie.
Ons weet waarom ons met Kersfees sing. God self het na ons toe gekom! Hy het die hemel verlaat en na ons verlore wêreld gekom omdat Hy ons liefhet.
Die heel eerste Adventliedere is nie deur Bach of Händel gekomponeer nie en dit is ook nie "Stille Nag" of "Joy to the World" genoem nie. Die heel eerste liedere oor die geboorte van ons Verlosser is in die evangelie van Lukas opgeteken en is deur eerste-eeuse Jode gesing — Maria, Sagaria, Simeon asook 'n wonderlike engelekoor wat onbeskryflik mooi moes geklink het!
Ons gaan vir vier weke luister hoe hierdie toegewyde Jode en die engele aan hulle blydskap uitdrukking gegee het met die geboorte van die langverwagte Messias. Julle kan nog "Wees Bly" inhoud aanlyn aantref, insluitende blogplasings en gemeenskapsgroepe, terwyl ons saam in die Woord van God delf en leer hoe om ons Verlosser in hierdie Adventtyd en deur die jaar te loof.
_______________________
Hier by "Love God Greatly Afrikaans"gebruik ons die "SOAP"-metode vir ons Bybelstudies.
Wat is SOAP?
Hierdie metode maak dit vir jou moontlik om dieper in die verse te delf en om meer te sien as wanneer jy net eenvoudig die verse lees en dan aangaan. Ons wil jou aanmoedig om jou tyd te gebruik om die daaglikse verse te lees en self te sien hoeveel meer jy uit jou daaglikse stiltetyd kan kry.
Wat beteken "SOAP"?
Die S staan vir "Scripture":
Jy skryf die teksverse neer. Jy sal verbaas wees om te sien wat God in sy Woord aan jou openbaar deur net tyd in te ruim om die verse neer te skryf.
Die O staan vir "Observation":
Wat sien jy in die verse wat jy lees? Wie is die gehoor? Is daar ‘n herhaling van woorde? Watter woorde staan vir jou uit?
Die A staan vir "Application":
Dit is wanneer jy die Woord van God persoonlik toepas. Wat sê God vandag vir my? Hoe kan ek dít wat ek nou net gelees het in my eie lewe toepas? Is daar iets wat ek moet doen? Watter veranderinge moet ek aanbring?
Die P staan vir "Prayer":
Bid tot God en praat met Hom oor die Skrifgedeelte wat jy so pas bestudeer het. As Hy iets aan jou in sy Woord geopenbaar het, bid daaroor. Bely die sonde in jou lewe wat Hy vir jou uitgewys het.
_____________________
Inleiding:
Die woord “Advent” is afgelei van ‘n Latynse woord wat “koms” of “aankoms” beteken. Dit is die vier weke wat die Christusfees vooraf gaan wanneer ons die koms van Jesus in herinnering roep. Wanneer ons die verhaal van Jesus se geboorte, wat in die evangelie van Lukas opgeteken is, lees, kry ons 'n blik op hoe dit was vir die mense wat die koms van die Messias eerstehands beleef het.
Vir 400 jaar nadat die profeet Maleagi in die Ou Testament opgetree het, het God nie met die Joodse volk gespreek deur nuwe profete te stuur nie. Sommige mense het gewonder of God Homself heeltemal onttrek het. Tog het al die Godvresende Jode in Israel gewag op die beloofde Verlosser wat sou kom. Dit was 'n tyd van groot afwagting. Met die engel se aankondiging dat die Messias, die Gesalfde, op pad is, was daar groot blydskap onder diegene wat die boodskap ontvang het.
Ons sal van hierdie blydskap lees deur mense soos Sagaria, wat met die Heilige Gees vervul was en in lofprysing uitgebars het. Sy lied is opgeteken in Lukas 1:68-79 en die Latynse naam daarvan is “Benedictus.” Ons sal kyk na Simeon se vreugdevolle woorde (die “Nunc Dimittis”) toe hy toegelaat is om baba Jesus te sien, soos beskryf in Lukas 2:29-32. Maria sing ook 'n pragtige lied genaamd die “Magnificat,” waarin sy God, sy karakter en sy dade in haar eie lewe en deur die geskiedenis heen grootmaak (Lukas 1:46-55). Selfs die engele kon nie hul verwondering bedwing toe hulle die goeie nuus aan die herders verkondig het nie. Hulle vreugdevolle koor, genaamd “Gloria in Excelsis,” is opgeteken in Lukas 2:14.
Terwyl ons gedurende die volgende vier weke ons harte voorberei vir die Christusfees, kom ons bid dat God met ons sal spreek deur sy Woord. Kom ons vra Hom om ons te help om in die kennis van sy heerlikheid te groei, 'n heerlikheid wat Sagaria, Simeon, Maria, die engele en selfs die herders gesien het tydens die koms van Jesus Christus. Dit is 'n glorie wat so helder skyn deur hierdie liedere en ons lei om ons te verheug in hierdie Adventtyd.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Het jy al ooit gewonder waarom ons gedurende die Adventtyd so baie jubel en sing? Die eerste liedere oor die geboorte van ons Verlosser is in die evangelie van Lukas opgeteken en is deur eerste-eeuse Jode gesing - Maria, Sagaria, Simeon asook 'n wonderlike engelekoor. Ons gaan vir vier weke luister hoe hierdie toegewyde Jode en die engele aan hulle blydskap uitdrukking gegee het met die geboorte van die langverwagte Messias.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://afrikaans.lovegodgreatly.com/