Wees Bly - Vier die AdventtydVoorbeeld
Johannes se bediening
Lees: Lukas 1:76-77; Johannes 1:19-37; Johannes 3:22-30
SOAP: Johannes 3:27
"Johannes het hulle geantwoord: 'Niemand besit enige bevoegdheid om iets te doen as dit nie uit die hemel aan hom gegee is nie.'"
Oordenking
Sagaria het tereg verstaan dat sy seun nie die beloofde koning is nie. Toe hy God in 'n lied geloof het, het hy dit gedoen in die teenwoordigheid van almal wat bymekaargekom het vir die besnydenis van sy eie seun, Johannes. Nogtans het sy lied grotendeels oor die koms van Jesus gegaan. Net in twee verse maak hy eintlik melding van sy seun se bediening. Hy het herhaal wat die engel gesê het Johannes sou doen: hy sou die beloofde voorloper wees van die Messias, wat die mense se harte vir die werklike koning sou voorberei.
Ons sien later in Johannes se bediening dat hy getrou was aan God se roeping. Alhoewel hy welbekend was in die hele Israel, gerespekteerd en 'n groot aanhang geniet het, het hy dit vir sy toehoorders duidelik gemaak dat hy nie die Messias is nie. Hy het gesê dat Jesus soveel belangriker as hy is dat hy nie eens werd is om sy sandale los te maak nie.
Johannes se getuienis was so effektief dat die meeste mense — selfs van sy eie dissipels — hom mettertyd verlaat en by Jesus aangesluit het. Hoewel groot skares vroeër om hom saamgedrom het, het die lewe al hoe stiller geraak vir Johannes . Uiteindelik het hy in die tronk beland, alleen en deur die meeste mense vergete.
Was Johannes se lewe 'n mislukking? Glad nie. Hy het mense na Jesus toe gewys. Hy het geleer wat dit beteken om aan homself te sterf, sy gewildheid, sy invloed, en sy ambisies te laat gaan, ten einde Jesus te verheerlik. Die enigste ding wat vir hom saak gemaak het, was om God se roeping in sy lewe te vervul, selfs al het dit beteken om in vergetelheid te vervaag.
Dit is goed om in gedagte te hou dat dit God is wat besluit watter bediening Hy aan elkeen van sy kinders wil gee. Ons moet Hom toelaat om vir ons te wys waar Hy wil hê dat ons Hom moet dien. Om eerlik te wees, dis nie maklik om "Ja, Here" te sê as Hy net 'n klein bediening vir ons gee nie, veral as ons iets soveel "groter" en "belangriker" in gedagte het. Daar kan selfs tye wees wanneer ons wonder of God van ons vergeet het. Selfs in daardie moeilike oomblikke, laat ons nie vergeet dat om te "sterf aan jouself" deel van God se reinigingswerk in sy kinders is nie. Uiteindelik is 'n lewe waarin ons Jesus groter as onsself maak, meer vrugbaar en vervullend as enigiets anders.
Gebed
Jesus, U weet hoe dikwels ek my eie eer bo U s'n soek. Vergewe my asseblief en help my om net tot u eer te lewe. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Het jy al ooit gewonder waarom ons gedurende die Adventtyd so baie jubel en sing? Die eerste liedere oor die geboorte van ons Verlosser is in die evangelie van Lukas opgeteken en is deur eerste-eeuse Jode gesing - Maria, Sagaria, Simeon asook 'n wonderlike engelekoor. Ons gaan vir vier weke luister hoe hierdie toegewyde Jode en die engele aan hulle blydskap uitdrukking gegee het met die geboorte van die langverwagte Messias.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://afrikaans.lovegodgreatly.com/