Wees Bly - Vier die AdventtydVoorbeeld

Wees Bly - Vier die Adventtyd

DAG 4 VAN 29

‘n Sterk Verlosser

Lees: Lukas 1:68-75; Psalm 92:10-11; Kolossense 1:11

SOAP: Lukas 1:69

“'n Sterk Verlosser het Hy vir ons laat opstaan uit die huis van sy dienaar Dawid.”

Oordenking

Die volk Israel is vir eeue lank deur buitelandse magte onderdruk. Die Assiriërs, Babiloniërs, Perse en Grieke het oor hulle regeer. Nou was hulle onder die swaar hand van Rome met sy goewerneurs, wette en hoë belasting. Die Joodse volk het verlang na die Messias wat uiteindelik sou kom om hulle van hierdie magtige indringers te verlos. Hy sou sterk en magtig moes wees om dit te bewerkstellig.

Toe Sagaria met die Heilige Gees vervul is, het hy die redding wat die Messias sou bring voorspel. Hy het die woorde van die profete geken, dat God 'n Verlosser uit die huis van Dawid sou stuur. Sagaria het Hom die “Sterk Verlosser” genoem.

Op verskillende plekke in die Ou Testament verwys “horing” na die dodelike wapen van die wilde os. As jy al ooit 'n volwasse os met sy massiewe horings gesien het, sal jy verstaan hoekom die horing in antieke tye ‘n teken van groot krag en oorwinning oor die vyande was. Sagaria het verstaan dat die Messias, wat op die punt gestaan het om te kom, sterk en magtig was en oorwinning vir sy volk sou verseker.

Ongelukkig is Jesus deur die meeste mense in Israel verwerp. Hy was nie die magtige aardse koning wat hulle as die Messias voorgestel het nie. Baie mense verwerp Jesus vandag steeds en ag Hom as swak en pateties, iemand wat nie teruggeveg het nie, maar eerder deur sy vyande vermoor is. Tog weet ons as Christene dat Jesus sterk is. Hy was die enigste een wat 'n lewe van oorwinning oor sonde en die duiwel kon lei. Hy was sterk genoeg om God se toorn aan die kruis te verduur. In sy krag het Hy elke swaar las van ons sondes op Homself geneem, die dood oorwin en is daarna in groot krag opgewek.

Met Jesus se koms het God se krag in ons wêreld ingekom. Hy is die opgestane Here. Hy leef. Hy is hier. Hy is by ons, en Hy is ons krag. In geloof kan ons ons swak lewens aan sy magtige krag koppe, en op sy hulp staatmaak, terwyl ons Jesus ervaar as ons groot Verlosser.

Gebed

Here, ek is swak, maar U is sterk. Versterk my asseblief volgens u glorieryke krag, sodat ek sonde kan oorkom en kan doen wat U van my verlang. Amen.

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Wees Bly - Vier die Adventtyd

Het jy al ooit gewonder waarom ons gedurende die Adventtyd so baie jubel en sing? Die eerste liedere oor die geboorte van ons Verlosser is in die evangelie van Lukas opgeteken en is deur eerste-eeuse Jode gesing - Maria, Sagaria, Simeon asook 'n wonderlike engelekoor. Ons gaan vir vier weke luister hoe hierdie toegewyde Jode en die engele aan hulle blydskap uitdrukking gegee het met die geboorte van die langverwagte Messias.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://afrikaans.lovegodgreatly.com/