Wees Bly - Vier die AdventtydVoorbeeld

Wees Bly - Vier die Adventtyd

DAG 5 VAN 29

Verlossing van ons vyande

Lees: Lukas 1:68-75; Sagaria 3:1-4; Hebreërs 2:14-18

SOAP: Lukas 1:73b - 74

" ... dat ons, gered uit die hand van vyande, Hom onbevrees kan dien ..."

Oordenking

Sagaria was 'n getroue Jood wat al die verbondsbeloftes van God in die Ou Testament geglo het. Hy het geweet dat die Messias sy volk van hulle vyande sou kom red. Wat hy nog nie verstaan het nie, was dat die verlossing wat Jesus met sy eerste koms sou bring, nie van die Romeine of enige ander menslike regering sou wees nie. Hy sou kom om sy volk van hul ware vyande te verlos: die Satan, sonde en die dood.

Toe Satan Jesus in die woestyn versoek, Hom al die koninkryke van die wêreld gewys en verklaar het dat hy dit alles besit, het Jesus hom nie weerspreek nie. Paulus praat van die duiwel as die "god van hierdie wêreld" (2 Korintiërs 4:4). Ons het al almal iets van die duiwel se bose heerskappy in ons eie lewens, families en samelewing ervaar. Selfs al wil mense eerlik, liefdevol, deernisvol wees en uit die mag van die duister losbreek, kan hulle nie. Ons kan nie, weens ons sondige natuur en die vyand se invloed. Ons het 'n Verlosser, 'n Redder, nodig.

Hoe het Jesus ons van die Satan se mag bevry? Hy het met ons sonde kom klaarspeel. Deur dit aan die kruis te dra, het Jesus dit vir altyd weggeneem. Aangesien die Satan ons nie meer kan aankla nie, het hy sy mag verloor oor diegene wat hulle toevlug na Jesus toe neem. Ons is veilig in die arms van Christus wanneer ons ons geloof in Hom plaas. God het "ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet. Deur die Seun het ons die verlossing verkry, die vergewing van ons sondes" (Kolossense 1:13-14).

Jesus vergewe nie net diegene wat op Hom vertrou nie, maar Hy verander ons, en gee ons die krag om regverdige lewens te lei. Ons kan nie self die kettings van selfsug, slegte gesindhede of vernietigende gedrag breek nie, maar Jesus kan. Hy is sterk genoeg om ons te bevry van enigiets wat ons nog gevange hou. Wanneer ons in geloof na Hom toe gaan en Hom om vergifnis en verlossing van sonde vra, sal Hy antwoord. Hy wil ons met sy liefde vul sodat ons ons volkome aan sy wil en manier van lewe kan oorgee, en ook onselfsugtig vir ander kan lewe. Ons vyand bewe wanneer ons so bid.

Soos Sagaria sing: Jesus het gekom om ons te verlos sodat ons God in heiligheid kan dien.

Gebed

Here Jesus, dankie dat U met my sonde afgereken het deur dit na die kruis te dra. Dankie dat U my vergewe, my verlos en u werk van heiligmaking in my voortsit. Amen.

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Wees Bly - Vier die Adventtyd

Het jy al ooit gewonder waarom ons gedurende die Adventtyd so baie jubel en sing? Die eerste liedere oor die geboorte van ons Verlosser is in die evangelie van Lukas opgeteken en is deur eerste-eeuse Jode gesing - Maria, Sagaria, Simeon asook 'n wonderlike engelekoor. Ons gaan vir vier weke luister hoe hierdie toegewyde Jode en die engele aan hulle blydskap uitdrukking gegee het met die geboorte van die langverwagte Messias.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://afrikaans.lovegodgreatly.com/