Wees Bly - Vier die AdventtydVoorbeeld

Wees Bly - Vier die Adventtyd

DAG 3 VAN 29

Week 1: Sagaria se lied

Lofprysing uit stilte

Lees: Lukas 1:5-25; Lukas 1:57-68

SOAP: Lukas 1:68

“Lofwaardig is die Here, die God van Israel, want Hy het sy volk in genade opgesoek en vir hulle verlossing bewerk.”

Oordenking

Sagaria het meer as nege maande in stilte deurgebring. God het hom berispe omdat hy nie die engel se woorde geglo het dat sy vrou, Elisabet, uiteindelik 'n seun sou hê na baie jare van onvrugbaarheid, verlange, gebed en wag nie. Omdat hy nie geglo het nie, moes Sagaria baie dae deurbring sonder om met sy familie en vriende te praat. Dit het hom genoeg tyd gegee om te dink, stil te wees en oor God se woorde te besin.

Op die vooraand van 'n nuwe Adventtyd moet ons onsself afvra: Het ons genoeg tyd om stil te word voor God? As ons ‘n ontmoeting met God wil hê en met die Heilige Gees vervul wil word, is dit noodsaaklik dat ons tyd spandeer in gebed en nadink oor die Woord van God. Ons word omring deur soveel geraas dat dit dikwels groot dissipline en 'n vasberade besluit verg om die TV af te skakel, ons selfone weg te sit, ons kamer binne te gaan, die deur toe te maak en — in daardie stilte — tyd alleen met God deur te bring.

In vandag se gedeelte kan ons sien dat die lang maande van stilte Sagaria goed gedoen het. Sy eerste woorde na die geboorte van sy seun was lof aan God, omdat hy met die Heilige Gees vervul was. Hy het selfs geprofeteer oor die wonderlike gebeure wat op die punt was om plaas te vind. Al het God hom berispe en gestraf vir sy ongeloof, het Sagaria nie bitter of kwaad geword nie. Hy het nou elke woord geglo wat Gabriël met hom gedeel het, en was vervul met diepe dankbaarheid dat die langverwagte Messias op die punt was om sy verskyning te maak.

In ons eie lewens is daar twee baie verskillende reaksies wat ons kan hê op die moeilikhede en beproewings wat God oor ons pad stuur. Ons kan óf ons harte verhard, bitter word en ons vuiste na God bal, omdat Hy sulke lyding toelaat, óf ons kan kies om Hom te vertrou te midde van die duisternis. Ons kan in sy woorde en sy weë glo, selfs wanneer ons dit nie verstaan nie. God gebruik dikwels moeilikhede om ons nederig te hou en ons nader aan Hom te trek. Kom ons vertrou Hom, selfs in die donker tye. Hy het belowe om dit vir ons ten goede te laat meewerk.

Gebed

Here Jesus, trek my asseblief nader aan U, selfs deur my beproewings. Help my om stil te wees voor U. Amen.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Wees Bly - Vier die Adventtyd

Het jy al ooit gewonder waarom ons gedurende die Adventtyd so baie jubel en sing? Die eerste liedere oor die geboorte van ons Verlosser is in die evangelie van Lukas opgeteken en is deur eerste-eeuse Jode gesing - Maria, Sagaria, Simeon asook 'n wonderlike engelekoor. Ons gaan vir vier weke luister hoe hierdie toegewyde Jode en die engele aan hulle blydskap uitdrukking gegee het met die geboorte van die langverwagte Messias.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://afrikaans.lovegodgreatly.com/