Wees Bly - Vier die AdventtydVoorbeeld

Wees Bly - Vier die Adventtyd

DAG 17 VAN 29

Maria se lied

Maria se vreugde

Lees: Lukas 1:26-56; 1 Petrus 1:3-12

SOAP: Lukas 1:46-47

“En Maria het gesê: 'Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser.'”

Oordenking

Maria is pas deur die engel vertel dat sy 'n baba gaan verwek. Sy was jonk, ongetroud en 'n maagd. Dit sou vir haar 'n groot skandaal gewees het om buite die huwelik swanger te word. Maria het ongetwyfeld geweet wat dit vir haar sou beteken. Sy sou openbare skaamte in die gesig staar en die hele dorp sou oor haar gepraat het. Wat sou haar verloofde Josef doen? Verbasend genoeg het Maria nie gekerm nie, maar in God verheug! Hoekom? Wat was daar om oor te sing?

Maria se hart was vol vreugdevolle lofprysing omdat sy na God gekyk het, die Een wat sy geweet het by haar sou wees en haar sou help. Omdat sy vol geloof was, kon sy verby haar onmiddellike, uitdagende omstandighede sien en eerder oor die groot dade van God, in die verlede, die hede en in die toekoms, mediteer. Haar gees was nie gevul met bekommernisse, vrese en die kleinighede van die lewe nie. Haar gees was gelig omdat sy haar oë gevestig het op God, haar Verlosser en wat Hy vir haar gedoen het.

Maria het God eenvoudig op sy woord geneem. Sy was vol vertroue dat God alles sou bewerkstellig wat Hy deur die engel gesê het: “Maria, die Here is met jou. Jy is begenadigd. Moenie bang wees nie. Hierdie kind wat jy gaan hê sal die Seun van die Allerhoogste genoem word en Hy sal 'n groot koning wees. Niks is onmoontlik by God nie.”

Dit is 'n baie bevrydende ding om ons gedagtes gevul te hê met God en sy ontsagwekkende karakter en wonderlike dade. Ons probleme word minder belangrik wanneer ons onthou dat God deur hierdie kort lewe met ons sal wees en dat ons 'n Verlosser het wat ons na die ewige heerlikheid sal bring. Ons moet Hom op sy Woord neem. Die hele Bybel is vol van God se kosbare beloftes aan ons. Hy wil hê ons moet hulle glo. As ons maar net ons oë kan lig bo die lewe se huidige moeilikhede en in geloof na Jesus die Verlosser kan kyk, sal ons harte binnekort aansluit by Maria se hoopvolle loflied.

Gebed

Here, laat my gedagtes al hoe meer gevul word met U, u karakter en u dade. Amen.

Dag 16Dag 18

Aangaande hierdie leesplan

Wees Bly - Vier die Adventtyd

Het jy al ooit gewonder waarom ons gedurende die Adventtyd so baie jubel en sing? Die eerste liedere oor die geboorte van ons Verlosser is in die evangelie van Lukas opgeteken en is deur eerste-eeuse Jode gesing - Maria, Sagaria, Simeon asook 'n wonderlike engelekoor. Ons gaan vir vier weke luister hoe hierdie toegewyde Jode en die engele aan hulle blydskap uitdrukking gegee het met die geboorte van die langverwagte Messias.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://afrikaans.lovegodgreatly.com/