Wees Bly - Vier die AdventtydVoorbeeld
Die God wat onthou
Lees: Lukas 1:54-55; Genesis 15:1-21; Matteus 26:27-28
SOAP: Lukas 1:54-55
“Sy dienaar Israel het Hy te hulp gekom deur te dink aan sy beloftes van ontferming soos Hy dit toegesê het aan ons voorvaders, aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid.”
Oordenking
Aan die einde van haar lofsang het Maria gesing van die God wat in genade sy beloftes van lank gelede onthou het. Baie eeue tevore het God 'n belofte aan Abraham gemaak. Regdeur Israel se geskiedenis het God hierdie verbondsbelofte onthou, vernuwe en daarop gereageer. Dit het nie van Israel se getrouheid afgehang nie, maar van God se genade. Trouens, baie keer het Hy sy beloftes vervul ten spyte van hulle opstandigheid en ongehoorsaamheid. Deur Jesus was God op die punt om 'n nuwe en beter verbond te sluit, een wat die beloftes aan Abraham vervul het, maar dit oortref het ver bo wat Maria kon dink.
God het 'n nuwe verbond met sy volk gesluit deur die dood van sy eie geliefde Seun. As God sy verbond met Abraham nagekom het, wat net 'n skaduwee van die komende nuwe een was, hoeveel te meer kan ons Hom vertrou om die beloftes wat Jesus met sy eie bloed gekoop het, na te kom? Jesus het beloftes gemaak om ons te vergewe, ons te vernuwe, ons met die Heilige Gees te vul, altyd by ons te wees en ons na ons ewige tuiste in die hemel te bring.
God, wat sy beloftes onthou, is 'n groot bron van vertroosting vir sy mense. Selfs wanneer ons soos 'n mislukking voel, het God ons steeds lief en sal Hy ons nie verwerp nie. Hy kan en sal nie die verbond wat Hy met ons gesluit het, verbreek nie. Hy is net so getrou aan ons as wat Hy deur die hele geskiedenis aan al sy kinders was. Hy kyk nie na ons mislukkings nie, maar onthou eerder Jesus se werk aan die kruis. Dit is waar ons harte kan rus. God onthou sy verbond.
Soos Maria sê, wanneer God sy volk genadiglik onthou, kom Hy om hulle te help. Het ons in ons eie lewens nie geweet dat God ons onthou nie? Baie keer het Hy na ons behoeftes omgesien, ons getroos in ons hartseer, ons van sonde bevry en ons in moeilike besluite gelei. Kom ons sluit aan by Maria se loflied aan ons heilige God, ons genadige Verlosser en ons getroue beloftehouer.
Gebed
Hemelse Vader, voltooi die werk wat U in my begin het. Help my om te onthou dat u karakter nooit verander nie. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Het jy al ooit gewonder waarom ons gedurende die Adventtyd so baie jubel en sing? Die eerste liedere oor die geboorte van ons Verlosser is in die evangelie van Lukas opgeteken en is deur eerste-eeuse Jode gesing - Maria, Sagaria, Simeon asook 'n wonderlike engelekoor. Ons gaan vir vier weke luister hoe hierdie toegewyde Jode en die engele aan hulle blydskap uitdrukking gegee het met die geboorte van die langverwagte Messias.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://afrikaans.lovegodgreatly.com/