Wees Bly - Vier die AdventtydVoorbeeld
Hoekom die engele gesing het
Lees: Lukas 2:13-14; 1 Petrus 1:10-12; Openbaring 5:6-14
SOAP: Lukas 2:13
“Skielik was daar saam met die engel 'n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê ...”
Oordenking
Wat die herders gesien het, moes werklik uitsonderlik gewees het. Dit was nie die Romeinse leër wat hulle geken en gevrees het met sy blink wapenrusting, skilde, spiese en swaarde nie. Dit was God se groot hemelse weermag, 'n weermag groter, helderder en heerliker as enigiets wat hulle nog ooit gesien het.
Tog was dit 'n weermag wat nie gestuur is om teen God se opstandige onderdane te veg nie, maar om die nuus van 'n Verlosser aan te kondig. Die engele het nie net Jesus se geboorte aangekondig nie, hulle was so vol vreugde dat hulle vreugdevol gesing en God saam geprys het. Het jy al ooit gewonder waarom die engele gesing het? Na regte is Jesus nie vir hulle gebore nie. Wat het hulle so met lof gevul?
Sedert hul skepping het engele, as God se boodskappers, God se aangesig gesien en was hulle diep geïnteresseerd in alles wat Hy doen. Hulle het lief wat God liefhet en haat wat Hy haat. Hulle weet baie goed dat die mens se sonde verskriklike lyding oor die hele skepping gebring het. Hulle het Adam en Eva se ongehoorsaamheid aan hul Skepper gesien en gesien hoe hulle gemeenskap met Hom verloor het. Hulle het God se barmhartige belofte gehoor om 'n Verlosser te stuur, maar hulle het nie geweet hoe Hy dit gaan doen nie. God het sy plan nie eens aan die engele openbaar nie.
Dit moes vir hulle so verbasend gewees het toe hulle die plan, hierdie geheimenis, voor hul oë sien ontvou het. Die tweede persoon van die Drie-eenheid, God die Seun, word 'n mens. Hoe was dit moontlik vir twee nature so oneindig verskillend, die goddelike en die menslike, om verenig te word in een persoon? Hoe kon die ewige God 'n dienskneg onder die wet word en dit perfek gehoorsaam namens mense? Hoe kon 'n goddelike persoon pyn en dood ervaar? Hoe kon Jesus, wat oneindig deur die Vader geliefd is, onder sy oordeel kom?
Die engele het God geprys vir hierdie wonderlike plan van verlossing. Hulle het besef wat 'n voorreg dit vir God was om aan die mens die deur na verlossing en die hemel oop te maak. Hulle het blydskap ervaar omdat Jesus baie mense sou red van 'n ewigheid in die hel. In Lukas 15 leer Jesus vir ons dat die engele verheug is oor selfs een persoon wat hom bekeer en na God draai. As engele hieroor verheug is, hoeveel te meer moet ons, vir wie die Verlosser gestuur is, ons verheug.
Gebed
Hemelse Vader, help my om myself daagliks te verheug oor u plan van verlossing in my lewe en die lewe van ander, soos die engele gedoen het by die geboorte van Jesus. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Het jy al ooit gewonder waarom ons gedurende die Adventtyd so baie jubel en sing? Die eerste liedere oor die geboorte van ons Verlosser is in die evangelie van Lukas opgeteken en is deur eerste-eeuse Jode gesing - Maria, Sagaria, Simeon asook 'n wonderlike engelekoor. Ons gaan vir vier weke luister hoe hierdie toegewyde Jode en die engele aan hulle blydskap uitdrukking gegee het met die geboorte van die langverwagte Messias.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://afrikaans.lovegodgreatly.com/