Wees Bly - Vier die AdventtydVoorbeeld

Wees Bly - Vier die Adventtyd

DAG 12 VAN 29

My oë het U verlossing gesien

Lees: Lukas 2:28-32; Psalm 34:5-9; Hebreërs 12:1-3

SOAP: Lukas 2:28-30

"Simeon het hom in sy arms geneem en God geprys en gesê: 'Here, laat u dienaar nou in vrede gaan volgens u woord, Omdat my oë u verlossing gesien het.'"

Oordenking

Dit is 'n aangrypende toneel. Simeon, 'n ou man, neem die babatjie in sy arms en begin met lofprysing. Hy verklaar dat hy, deur net na die gesig van hierdie kind te kyk, God se verlossing gesien het. Simeon het nooit gesien hoe Jesus wonderwerke doen of aan die kruis sterf of uit die dood opstaan nie, maar hy het genoeg gesien deur net na die klein kindjie te kyk. Hy het vas geglo dat hy, toe hy Jesus gesien het, God se verlossing aanskou het.

Simeon het waarlik deur geloof geleef. Hy het eenvoudig aanvaar wat God vir hom gesê het. Dit is wat geloof is: om 100% seker te wees dat wat God as waar verklaar, werklik waar is. Ons is oortuig van die dinge wat ons nie met ons fisieke oë kan sien nie, omdat ons dit duidelik met ons innerlike, geestelike oë sien. Dit is om die onsigbare so duidelik te sien asof dit sigbaar is. Ons glo waarlik God se woorde, en ons weet met sekerheid dat dit die werklikheid beskryf.

Alhoewel ons 2 000 jaar later leef nadat Jesus as baba na die wêreld toe gekom het, en hoewel ons Hom nie nou kan sien nie, moedig die Bybel ons aan om na Hom te "kyk" en "ons oë op Hom te vestig". Psalm 34 sê vir ons diegene wat na Hom kyk en so volkome gehelp word, van blydskap straal. Hierdie psalm verduidelik ook wat dit beteken om na Jesus te "kyk". Dit is om by Hom te skuil, sy hulp te vra, na Hom uit te roep, en Hom te glo.

Ons "kyk" so gou na ander mense vir hulp. Ons vertel dikwels vir ons vriende van ons probleme nog voordat ons vir Jesus daarvan vertel het. Ons hardloop agter mense aan op soek na vertroosting, begrip en liefde, en vergeet dat alles wat ons nodig het in Jesus is. Hy is ons verlossing, hulp, krag, wysheid, troos, vrede, reiniging en herstel. Voordat ons êrens anders kyk, kom ons kyk na Jesus. Wanneer ons Hom sien, het ons waarlik God se verlossing gesien.

Gebed

​​Here Jesus, ek kyk na U. U is my redding, my alles. Help my asseblief om hierdie wedloop met volharding te hardloop en leer my om oë op U gevestig te hou. Amen.

Dag 11Dag 13

Aangaande hierdie leesplan

Wees Bly - Vier die Adventtyd

Het jy al ooit gewonder waarom ons gedurende die Adventtyd so baie jubel en sing? Die eerste liedere oor die geboorte van ons Verlosser is in die evangelie van Lukas opgeteken en is deur eerste-eeuse Jode gesing - Maria, Sagaria, Simeon asook 'n wonderlike engelekoor. Ons gaan vir vier weke luister hoe hierdie toegewyde Jode en die engele aan hulle blydskap uitdrukking gegee het met die geboorte van die langverwagte Messias.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://afrikaans.lovegodgreatly.com/