Wees Bly - Vier die AdventtydVoorbeeld

Wees Bly - Vier die Adventtyd

DAG 11 VAN 29

Die Woord van God en God se Gees

Lees: Lukas 2:21-26; Johannes 14:15-26

SOAP: Johannes 14:26

"... en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het."

Oordenking

Simeon was 'n lewende herinnering aan die mense in Israel dat hulle nie God se woorde moet vergeet nie. Selfs al was die beloftes van die komende Messias eeue vantevore gemaak, het Simeon nie daaraan getwyfel dat God dit sou nakom nie. Hy het diep in sy hart geweet dat God nie kan lieg nie en altyd getrou bly aan sy beloftes. Daar was egter nog iets wat Simeon so seker gemaak het: die Heilige Gees het uitdruklik aan hom geopenbaar dat hy nie sou sterf voordat Hy die Messias gesien het nie.

Simeon het twee getuienisse gehad: die Woord van God en die Heilige Gees. Dit is dieselfde getuienisse wat gelowiges vandag nog het. Deur die Woord van God, die Bybel, leer ons van God se groot dade in die verlossingsgeskiedenis en sy planne vir die toekoms. Ons kan hierdie woorde egter slegs deur die Heilige Gees verstaan en deur persoonlik te glo.

Dit staan in die Bybel dat God nie sonde verdra nie en almal gaan straf vir hulle oortredinge. Die Heilige Gees waarsku pertinent: "JULLE is onder God se toorn!" Die Bybel sê vir alle mense, oral, dat God die wêreld so liefgehad het dat Hy sy Seun gegee het. Die Heilige Gees sê: "Dit is vir JULLE dat Jesus gekom het."

Die Bybel wys na die kruis van Jesus en sê: "Kyk, daar is die lam van God wat die sondes van die wêreld wegneem." Die Heilige Gees praat met ons rustelose harte en sê: "Jesus het JOU sondes weggeneem!"

Dit is verstommend hoe die Woord van God en God se Gees saamwerk om ons tot geloof in Jesus Christus te bring. Wat moet ons doen om te glo? Die antwoord is eenvoudig. Lees die Bybel en vra die Heilige Gees om jou te help verstaan. As ons die Bybel sonder die hulp van God se Gees bestudeer, bly dit vir ons 'n lewelose boek. Wanneer ons die Heilige Gees vra sonder die Bybel, beland ons gou in allerhande soorte vreemde lerings en wanvoorstellings. Die Woord van God en die Heilige Gees werk altyd saam.

Gebed

Here, laat u Woord en u Gees kragtig in my werk. Amen.

Dag 10Dag 12

Aangaande hierdie leesplan

Wees Bly - Vier die Adventtyd

Het jy al ooit gewonder waarom ons gedurende die Adventtyd so baie jubel en sing? Die eerste liedere oor die geboorte van ons Verlosser is in die evangelie van Lukas opgeteken en is deur eerste-eeuse Jode gesing - Maria, Sagaria, Simeon asook 'n wonderlike engelekoor. Ons gaan vir vier weke luister hoe hierdie toegewyde Jode en die engele aan hulle blydskap uitdrukking gegee het met die geboorte van die langverwagte Messias.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://afrikaans.lovegodgreatly.com/