God se vaders - vrae vir vadersVoorbeeld
Voel jou kind veilig by jou?
"Julle het in die woestyn ondervind hoe die Here julle God julle ... gedra het soos 'n man sy seun dra" (Deuteronomium 1:30–31).
"... Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien" (Josua 24:15b).
"Wie die Here dien, het daarin ’n veilige toevlug, en ook sy kinders vind daar skuiling" (Spreuke 14:26).
Sê jy dat jy jammer is as jy iets verkeerd doen? Verwag jy dat jou seun jammer moet sê as hy iets verkeerd doen? Dink jy God verwag van jou om jammer te sê? Hoekom verwag jy dit van jou kinders, maar nie van jouself nie?
Het jy geduld met jou kinders?
Verstaan jy as jou kind sewe jaar oud is, hy nog nie vir die onder-19’s rugby, sokker of krieket kan speel nie? (Dalk ook nie wanneer hy eendag wel O-19 is nie).
Kan jy jou kinders toelaat om hulleself te wees? As hulle hou van kuns, vioolspel, skaak of om modelvliegtuie te bou – is dit reg met jou? Of is dit slegs vir jou aanvaarbaar as hulle ‘n dokter, meganiese ingenieur, rugby- of krieketspeler of 'n professionele beroep beklee?
Wat is jou seun se gunsteling roomys, kleur, sportster, gunsteling lied, sy vriendin se naam, sy gunsteling vak op skool?
Wat is sy twee grootste drome? Jou seun mag eendag ‘n skrywer wil word, rekenaarspeletjies ontwerp, as komediant optree of om sportmotors reg te maak. Sal dit reg wees met jou? Wat van jou dogter?
Hoeveel tyd bring jy elke dag deur om met hulle te praat?
Mag jou kinders jou onderbreek en is jy vir hulle toeganklik? Kan jou kind enige tyd in die motor of in die huis na jou toe kom en ‘n vraag vra?
Beplan jy mooi goed en verrassings vir jou kinders? Kan hulle soms ‘n geskenk van jou verwag?
Wat dink jy sal van hulle word as hulle jou voorbeeld volg?
Vertel jy vir hulle Bybelverhale?
Het jy jou kinders begelei tot waar hulle as volwassenes verantwoordelikheid kan aanvaar? Of is hulle volwassenes met die gedrag en onverantwoordelikheid van ‘n kind – mense wat nie 'n posisie as man of vrou kan inneem nie?
Wat dink jy voel jou kinders wanneer jy na hulle kyk? Voel hulle jy is trots op hulle?
Komplimenteer jy hulle?
Weet jou kinders jy is trots op hulle, ongeag hoe goed hulle presteer? Dat jou liefde en respek vir hulle niks met prestasie te doen het nie?
Het jy al saam met jou kinders gehuil oor dit waaroor hulle huil?
Leer jy jou kinders hoe om met geld te werk – of moet hulle liewers nie van jou leer hoe om met geld te werk nie (Matteus 6:24)?
Aangaande hierdie leesplan
Vir Godvresende vaders is daar nood in hierdie tyd. Hierdie leesplan vra 'n hele aantal vrae aan vaders. Die doel van die vrae is NIE om vaders skuldig te laat voel nie, maar om hulle te help om goeie en gesonde verhoudings met hulle kinders te bou, hulle tot geestelike volwassenheid te begelei en hulle vir hul verantwoordelikhede as volwassenes voor te berei.
More
Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.com