God se vaders - vrae vir vadersVoorbeeld
Hoe praat jy voor jou kinders?
Vloek jy? "Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom" (Efesiërs 4:29; Kolossense 3:8).
Het jou kind respek vir jou wanneer hulle sien hoe jy hulle ma hanteer en met haar praat (Efesiërs 5:25; 1 Petrus 3:7)?
Hoe dikwels hoor jou kind die woorde: Ek is lief vir jou?
Maak jy vuil grappe? Dink jy hulle sal jou daarvoor respekteer? "Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel ..." (Kolossense 4:6a AFR53).
Praat jy agteraf van ander mense, beskinder en verkleineer hulle? Watter boodskap kry jou kind? (1 Petrus 2:1).
Antwoord jy jou kinders wanneer hulle vir jou ‘n vraag vra? Is jy geïrriteerd? Doen jy moeite om ‘n deurdagte antwoord te gee?
Is jy sarkasties met jou kinders? Gee jy erkenning vir hulle prestasies – al het hulle ook 5de in die 100 m wedloop gekom? Of laaste?
Skreeu jy op jou kinders? Is daar woede-uitbarstings?
Wat dink jy is die eerste emosie wat by jou kind opkom wanneer jy weg was en jou motor voor die deur stop en hulle jou stem hoor?
Drink jy totdat jy dronk is? Hoeveel respek kan ‘n kind vir ‘n dronk pa hê? Moenie op ‘n ander plek gaan drink nie. Die punt is: Moenie dronk word nie! "Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard. Nee, laat die Gees julle vervul " (Efesiërs 5:18).
Waarna kyk jy op die internet? Sal jy wil hê jou kind moet ook na daardie video's en foto’s kyk?
Vra jy jou kinders uit oor hulle drome en moedig jy hulle aan om te droom? Of lag jy vir hulle wanneer hulle sê hulle wil vir die Springbokke rugby speel, eendag ‘n skrywer, akteur of ‘n speurder word?
Wat verwag jy van jou kinders? Bepaal jou voorkeure hoe jy oor hulle dink? Gaan jou begeerte vir jou kind tot hulle voordeel wees of sal dit net wees om jou beter te laat lyk?
Maak jy tyd vir jou kind? Vra jy vir jou kinders of hulle tyd het om saam met jou iets te kom doen omdat jy dit graag saam met hulle wil doen?
Is jy voortdurend “weg” – saam met jou vriende en belangrike vergaderings en oorsee – ongeag wat jou kind se behoeftes is?
Aangaande hierdie leesplan
Vir Godvresende vaders is daar nood in hierdie tyd. Hierdie leesplan vra 'n hele aantal vrae aan vaders. Die doel van die vrae is NIE om vaders skuldig te laat voel nie, maar om hulle te help om goeie en gesonde verhoudings met hulle kinders te bou, hulle tot geestelike volwassenheid te begelei en hulle vir hul verantwoordelikhede as volwassenes voor te berei.
More
Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.com