Ek Voel Ek Is Onaanvaarbaar Vir God en Vir MenseVoorbeeld

Ek Voel Ek Is Onaanvaarbaar Vir God en Vir Mense

DAG 6 VAN 7

Wat en hoe dink God oor jou?

Jesus het vir jou gesterf. Dink vir ‘n oomblik aan die ontsagwekkendheid daarvan. Jesus het vir mý gesterf – ek, die onaanvaarbare? Weet jy van enige iemand wat dit vir jóú sal doen? Tog het Jesus dit gedoen: "Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was" (Romeine 5:8). Nog voordat ons Hom gekies het, het Hy reeds die prys vir ons sonde betaal en sy ontsaglike liefde vir ons bewys.

God wil jóú vir ewig saam met Hom in die hemel hê. Dit is wat Hy in Romeine 6:23 sê: "Die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here." Hy gee vir jou die ewige lewe as ‘n geskenk. Aanvaar die waarheid en werklikheid daarvan.

Hy wil hê jy moet sy dissipel wees — hy dink jy sal ‘n goeie dissipel wees. Hy vertrou jou. Jy moet mense wat stukkend is, verwerp en onaanvaarbaar voel, van Hom gaan vertel en sy dissipels maak. Dit is ‘n geweldige verantwoordelikheid en Hy dink jy kan dit doen. Hy voorsien die krag daarvoor: "Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal My getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld" (Handelinge 1:8).

Die Gees van Jesus, God die Heilige Gees, bly in jou: "Julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak … Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is" (Romeine 8:15-16).

Hy het jou geskep om goeie werke te doen. Jy is nie maar net per ongeluk hier nie. Hy het jou met ‘n baie spesifieke doel geskep. Hy wil jou gebruik. Hy het vir jou talente gegee en gawes van die Heilige Gees sodat jy ander kan help. "In Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het " (Efesiërs 2:10).

Jy het ‘n Vader wat jou sonde wil vergewe, vrymaak van alle skuldgevoelens en van die skande wat jy tans beleef of belewe het. Hy wil die verlede met al jou skuldgevoelens en selfveroordeling vergewe en jou as sy kind aanneem. "Dan sal Ek julle aanneem, en Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees,” sê die Here, die Almagtige" (2 Korintiërs 6:17b-18).

Hy ken jou omstandighede en sal vir jou ‘n pad maak — al kan jy die pad nie sien nie en al dink jy daar is nie ‘n pad nie. In Jesaja 43:16 lees ons: "So sê die Here, Hy wat ’n pad gemaak het deur die see, 'n deurgang deur die magtige waters." Vertrou hom. Dit is wat Hy vir jou wil doen.

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Ek Voel Ek Is Onaanvaarbaar Vir God en Vir Mense

Te dikwels voel mense hulle is onaanvaarbaar. Hulle voel soos mense wat buitekant die stadsmure lewe — daar waar alles is wat nikswerd is en alle rommel en vuilgoed uitgebrand word. Jesus het egter gekom om die poort na die stad oop te maak sodat ons weer in die stad kan inkom. Mag hierdie leesplan jou help om te weet dat God jou naby Hom wil hê.

More

Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.com