Ek Voel Ek Is Onaanvaarbaar Vir God en Vir MenseVoorbeeld

Ek Voel Ek Is Onaanvaarbaar Vir God en Vir Mense

DAG 3 VAN 7

So dikwels begin ons wegkruip agter mure wat onsself gebou het

Op Golgota het Jesus die poort oopgemaak. Dié wat reeds binne is, kan nou uitgaan en dié wat buite is, innooi. Hulle word deur Jesus gestuur om uit te gaan en bedienaars van die versoening te wees – om mense te help om met God te versoen en mense met mekaar. Jesus vra dié wat reeds binne is, om uit te gaan en te vertel dat dit nie meer nodig is om in wanhoop buitekant die muur te sterf nie — daar is plek aan die binnekant van die muur.

Kyk na Lukas 15:1-2: "Die tollenaars en sondaars het almal die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister." Ons opdrag is om saam met Jesus, die gekruisigde, by die stadspoort uit te gaan en na die verlorenes, die onreines, die tollenaars en sondaars te gaan soek. Dit is waarvoor God ons geroep het: om uit te gaan na die straathoeke, die paaie en die lanings en mense te nooi om in sy koninkryk in te kom. God stuur ons om dissipels te maak van die nasies. Hy stuur ons na rave-klubs, casino’s, gholfbane, ons bure, haarkappers, staatsdienswerkers, armes in die plakkerskampe, yuppies met hulle duur motors en oorvol programme, makelaars en bedelaars. Almal moet genooi word om binne-in die stad te kom bly. Dit was die doel van die kruis.

Dit is tragies dat ons wat juis van buitekant die muur in die stad ingebring is, nie hierdie Goeie Nuus deel met die mense rondom ons en hulle wat steeds aan die anderkant van die muur leef nie. Ons het nuwe mure gebou, ons eie mure — mure van gerief, privaatheid, gemak, veroordeling, liefdeloosheid en ‘n neerbuigende gesindheid wat nie van Jesus af kom nie (Romeine 12:3).

Te veel Christene het gevangenes geword van sosiale en kulturele mure, taal en etnisiteit. Sonder dat ons dit besef, het ons nuwe mure rondom onsself gebou, waar ‘n verlore wêreld met mense wat verwerp en onaanvaarbaar voel nie regtig welkom is nie. Soms is die mure wat ons rondom onsself gebou het so hoog dat ons nie eens bewus is van die bestaan van mense buite ons eie en selfgeboude stadsmure nie.

Is daar mure rondom jou eie lewe gebou, mure wat ander uitsluit en net ’n klein groepie “uitverkorenes” aan die binnekant toelaat? Mure wat ons van “die sondaars en onaanvaarbares” skei?

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Ek Voel Ek Is Onaanvaarbaar Vir God en Vir Mense

Te dikwels voel mense hulle is onaanvaarbaar. Hulle voel soos mense wat buitekant die stadsmure lewe — daar waar alles is wat nikswerd is en alle rommel en vuilgoed uitgebrand word. Jesus het egter gekom om die poort na die stad oop te maak sodat ons weer in die stad kan inkom. Mag hierdie leesplan jou help om te weet dat God jou naby Hom wil hê.

More

Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.com