Ek Voel Ek Is Onaanvaarbaar Vir God en Vir MenseVoorbeeld
Gaan na die mense wat buite die stadsmuur lewe
Jesus kom vandag weer met ’n kruis op sy skouer na ons toe. Hy stap deur die “stadspoorte” van hierdie nuwe mure wat ons van ons naaste skei, van die vervloektes en verworpenes van ons samelewing. Hy stap na mense wie se vloek Hy reeds tweeduisend jaar gelede gedra het en Hy vra of ons saam met Hom sal uitgaan en hulle sal innooi. Dit is presies waarvoor hy gekom het: "... vir siekes wat ‘n geneesheer nodig het, vir sondaar om tot bekering te kom "(Lukas 5:31-32).
Ons moet onthou dat ons almal eenmaal buite die muur gewoon het. Het ons dit so gou vergeet? Het ons vergeet hoe dit was om as vervloektes, onreines, verworpenes en onaanvaarbares buite die muur te lewe? Het ons die wanhoop en die vrees vergeet, die pyn en die veragting, die Godverlatenheid, die wroeging oor ons sonde en die skande daarvan toe ons onaanvaarbaar gevoel het?
Het ons vergeet hoe Jesus ons daar “buitekant” die stadsmuur kom haal het, ons Vriend geword het en ons uitgenooi het om saam met Hom en sy vriende aan sy tafel te kom sit? "Baie tollenaars en sondaars het saam met Jesus en sy dissipels kom eet" Matteus 9:10).
Het ons onsself verhef tot vingerwysers? Dink ons dat ons ’n bietjie beter is as hulle wat buitekant die muur woon? Dit het Jesus sy lewe gekos om na die vervloektes buitekant die stad te gaan. Net so sal dit ons ook iets kos. Om die waarheid te sê, dit sal ons, soos vir Jesus, ook ons lewe kos om na die veragtes buitekant die muur te gaan. Ons sal moet sterf aan ons weersin in sulke mense, hulle sonde en die onaanvaarbare dinge waarmee hulle besig is. Vir sommige van ons sal Jesus sê om tussen hulle te gaan lewe. Jesus het tussen die prostitute en die tollenaars beweeg en gelewe. Sal ons dan daarvoor terugdeins? Hy is reeds daar. Hy wag daar vir ons.
Elkeen van ons beleef die werklikheid op ons eie manier. Soms kan jy voel of jy ook buitekant die stadsmuur bly, selfs al is jy ‘n Christen. Jy voel mense het jou verwerp — jou familie, “die kerk”, die mense buitekant die muur en die mense binne die muur ook. Dikwels is dit egter slegs ‘n gevoel en nie die waarheid nie. Ons gevoelens mag nooit die maatstaf wees vir die waarheid nie.
Aangaande hierdie leesplan
Te dikwels voel mense hulle is onaanvaarbaar. Hulle voel soos mense wat buitekant die stadsmure lewe — daar waar alles is wat nikswerd is en alle rommel en vuilgoed uitgebrand word. Jesus het egter gekom om die poort na die stad oop te maak sodat ons weer in die stad kan inkom. Mag hierdie leesplan jou help om te weet dat God jou naby Hom wil hê.
More
Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.com