Ek Voel Ek Is Onaanvaarbaar Vir God en Vir MenseVoorbeeld
Soms sal mense binne en buite die mure jou verwerp
Toe Jesus na die uitgeworpenes gegaan het, het die “kerk” Hom nie verstaan nie. Hulle het Hom vir ’n vraat en ’n wynsuiper uitgeskel. "Die Seun van die mens het gekom en geëet en gedrink, en hulle sê: ‘Kyk daar, ’n vraat en ’n wynsuiper, ’n vriend van tollenaars en sondaars.'" ( Matteus 11:19).
Jesus het egter gegaan, ongeag van dit wat die mense binnekant die muur gesê het of hoe die mense aan die buitekant van die muur gelewe het. Hy het gegaan ten spyte van wat hulle gedoen het. Hy het gegaan ten koste van Homself. Hy het gegaan juis omdat hulle dinge gedoen het wat hulle aan die buitekant van die muur laat beland het. Sy liefde vir hulle en die wil van sy Vader het Hom gedryf. Die mense buitekant die muur verstaan dikwels nie hoekom Hy na hulle toe gekom het nie.
Die skare op Golgota se heuwel het Hom bespot, uitgelag, verag en uiteindelik verwerp. Hy het Homself bekend gestel as die Messias, maar die Jode wou ‘n ander soort Messias hê – hierdie een was nie vir hulle aanvaarbaar nie. Een van die rowers aan die kruis het dit ook gedoen. So sal dit altyd wees. Daar sal altyd mense in die kerk wees wat nie wíl verstaan waarom ons na die mense buitekant die stadsmuur moet gaan nie. Daar sal ook altyd mense buitekant die stadsmuur wees wat geen begrip vir ons goeie bedoelings sal hê nie. Sommige mense sal wel verstaan en glo.
Weet ook dat die mense wat buite die stadsmure bly, jou dalk ook sal verwerp as jy uitgaan om vir hulle wat aan die buitekant bly, van die kruis en die bloed van die Lam te vertel. Hulle het baie dikwels nie juis enige rede om iemand wat van binne die stadsmure kom, te vertrou nie.
Daar is baie wat nie in God en die verlossing wat hy vir hulle bewerk het sal glo nie, en dit verwerp. Ons verantwoordelikheid is om vir die goddeloses en onreines van Jesus te gaan vertel — 2 Timoteus 3:1-5. Moenie deur hulle besoedel word nie, waarsku Paulus. Daar is tog van hulle wat Jesus sal sien en hulle sal bekeer en saam met ons binnekant die stadsmuur sal kom lewe.
In Matteus 21:32 maak Jesus die volgende opmerking: "Johannes het gekom om julle die regte pad te wys, en julle het hom nie geglo nie, maar tollenaars en prostitute het hom geglo." 1 Petrus 2:17 sê: "Respekteer alle mense." Dit sluit ook dié in wat buitekant die muur is.
Aangaande hierdie leesplan
Te dikwels voel mense hulle is onaanvaarbaar. Hulle voel soos mense wat buitekant die stadsmure lewe — daar waar alles is wat nikswerd is en alle rommel en vuilgoed uitgebrand word. Jesus het egter gekom om die poort na die stad oop te maak sodat ons weer in die stad kan inkom. Mag hierdie leesplan jou help om te weet dat God jou naby Hom wil hê.
More
Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.com