Ek Voel Ek Is Onaanvaarbaar Vir God en Vir MenseVoorbeeld
Baie mense leef buitekant die muur
Baie mense beleef dat hulle onaanvaarbaar is vir God en vir mense. Miskien voel jy ook so? Dit voel asof ‘n geestelike muur jou skei van die aanvaarbares.
Daar is ‘n belangrike beginsel in Hebreërs 13:11-13: "Die bloed van die offerdiere word deur die hoëpriester in die heiligdom ingebring vir die sonde, maar hulle liggame word buitekant die laer verbrand. Daarom het Jesus ook buitekant die stadspoort gely om die volk deur sy eie bloed van hulle sonde te reinig. Laat ons dan nou uitgaan na Hom toe buitekant die laer en die smaad dra wat Hy gedra het."
Na watter muur verwys Hebreërs 13:11-13? Die muur waarvan hier gepraat word, is ’n fisieke skeiding wat God aanvanklik daargestel het om skeiding te maak tussen wat rein en onrein is. In die Ou Testament kon niks wat onrein was, binne die Israeliete se kamp gebly het nie. Alles en almal wat onrein was, is buite die kamp, en later die stadsmuur van Jerusalem gegooi en moes buite bly. Al die afval van die stad is buite die stadsmuur weggegooi en verbrand. Hier gebruik die skrywer van Hebreërs dit om ‘n geestelike muur te beskryf.
Almal wat onwelkom en onrein was, moes buite die muur bly. Jesus Christus het op Golgota, buitekant die stadsmuur van Jerusalem gesterf. Daar het hy gesterf vir dié wat geestelik “buitekant die muur” lewe: die “uitgeworpenes”, die veragtes, verwerptes, onwelkomes, vervloektes, naamloses, gesigloses, onreines en melaatses — die onaanvaarbares, platgetraptes, die weggegooides.
Buitekant die muur leef mense wat onder ’n vloek is: die vloek van God wat gekom as gevolg van ons sonde. Slegs wanneer daardie vloek opgehef word, mag ons weer in die stad inkom. 1 Korintiërs 6:9-10 beskryf sommige van die mense wat buitekant die muur bly: "Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie."
Hoe kan mense weer binne die stadsmure toegelaat word? Net die kruis en die bloed van Jesus kan die vloek van sonde wegneem en kan iemand in die stad inkom. Dit is wat 1 Korintiërs 6:11 sê: "En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God." Wat ‘n ongelooflike gedagte: hulle wat nie deel kon kry aan die koninkryk van God nie, kan nou toegang kry deur hulle sonde te laat afwas en vrygespreek te word in die Naam van die Here Jesus Christus.
Aangaande hierdie leesplan
Te dikwels voel mense hulle is onaanvaarbaar. Hulle voel soos mense wat buitekant die stadsmure lewe — daar waar alles is wat nikswerd is en alle rommel en vuilgoed uitgebrand word. Jesus het egter gekom om die poort na die stad oop te maak sodat ons weer in die stad kan inkom. Mag hierdie leesplan jou help om te weet dat God jou naby Hom wil hê.
More
Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.com