Here, help my praatVoorbeeld
Dag 7: WOORDE VAN DANKBAARHEID
"En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom" (Kolossense 3:17).
Volgens 'n artikel in die Harvard Mental Health Letter kan dankbaarheid jou beslis gelukkiger maak. DIe woord "dankbaarheid" kom van die Latynse woord "gratia" wat ook "genade" beteken. Dankbaarheid is dus ‘n ingesteldheid omdat jy iets ontvang het wat jy nie verwag of verdien het nie. Dit gee jou gewoonlik ‘n groot gevoel van vreugde en jy ervaar meer positiewe gedagtes teenoor mense, die natuur en ook teenoor God self.
Meestal besef mense dat dit deur God se ingryping in hul lewens is dat daar ‘n oplossing kon kom vir hul probleem of situasie. Jy ervaar blydskap omdat jy ‘n goeie ervaring gehad het. Dit het weer goeie gesondheid tot gevolg en jy is meer oop en ontvanklik vir goeie verhoudinge met ander mense.
Volgens hierdie artikel kan ons dankbaarheid op verskillende maniere uitleef: Jy kan dankbaarheid ervaar oor dinge uit jou verlede soos byvoorbeeld gebeurtenisse uit jou kinderjare en daaroor praat. Jy kan dankbaarheid hê vir waar jy op die oomblik in jou lewe is byvoorbeeld ten opsigte van jou gesondheid, huis, eggenoot, kinders of werk. Dan kan jy ook kies om dankbaar te wees vir wat ook al die toekoms mag inhou. Kies om die positiewe te soek en daaroor te praat. Jy sal emosies van afwagting, blydskap en hoop ervaar.
Kinders van die Here kan en moet kies om dankbaar te wees. Paulus skryf: “Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle” (1 Tessalonisense 5:18 AFR53). Dit klink vir my soos ‘n opdrag: "My kind, wees dankbaar!"
Probeer dankbaarheid aanwakker deur byvoorbeeld ‘n nota vir iemand te stuur om te sê hoe baie jy hom/haar waardeer. Hou ‘n joernaal waarin jy gereeld alles neerskryf waarvoor jy dankbaar is. Maak tyd om doelbewus te dink aan dinge in jou lewe waarvoor jy dankbaar kan wees. Bid gereeld en sê vir God dankie vir jou lewe (Psalm 139:1 - 18).
GEBED: My Vader God, dankie dat U die almagtige God is. Dankie dat U my Vader is. Dankie dat U my liefhet net soos ek is. Dankie dat U in my daaglikse behoeftes voorsien — meer as wat ek verdien. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Sukkel jy om te bid of om met mense te praat? Dalk is dit vir jou moeilik om hardop te bid. Omdat God so lief is vir jou, het hy vir jou die Heilige Gees gegee om jou te help. Hy verstaan jou so goed — daarom het Hy alreeds die perfekte oplossing vir jou. Vertrou Hom daarvoor.
More
Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za