Here, help my praatVoorbeeld

Here, help my praat

DAG 5 VAN 7

Dag 5: MAG MY WOORDE U EER

"Deur die regte woorde te gebruik, kan ‘n mens sy honger stil, hy kan genoeg kry om te eet deur wat hy sê" (Spreuke 18:20).

Ons sê mos maklik: “Ek is dom/oud/lelik” of “Ek kan nie dit doen nie”. Baie gelowiges sal dan vir jou sê: “Nee, moenie so praat nie. Jy moet lewe spreek, anders word jy dit wat jy dink of dit waarvoor jy bang is, gebeur.” Dalk probeer hulle jou opbeur.

Die belangrike deel wat ons moet weet is dat dit nie ‘n Bybelse waarheid is om te sê ons moet lewe spreek nie, want God alleen is die Skepper. Ons lees in Genesis 1 dat God uit niks uit kon skep en ook “want Hy het gepraat en dit was so, Hy het beveel en dit was daar” (Psalm 33:9).

Die Bybel sê wel ons moet besef dat daar krag in ons woorde is. Krag om iemand emosioneel te breek, maar ook krag om op te bou. Veral die boek Spreuke leer ons baie oor wysheid wat betref hoe ons praat, dink en optree. Byvoorbeeld wyse persone sal met insig praat, nie luister na skinderstories en dwaas wees in hulle optrede nie, maar mooi luister na die feite voordat hulle hulle opinie uitspreek.

Spreuke leer ons om ons woorde versigtig te kies, want dit wys in watter toestand ons hart is. Spreuke 18:20-21 wys ons daarop dat ons woorde ander baie seer kan maak, want lewe en dood sit in die krag van ons tong. Wanneer ons lees van “die vrug van ons mond” (vers 20), dan gaan dit oor die gevolge van ons woorde — goed of sleg. Ek en jy moet weet dat daar dadelik gevolge is op alles wat ons sê.

Mag God ons help om mekaar eerder te bemoedig met woorde wat hoop bring en mekaar weer die pad na Jesus toe wys. Mag ons net soos Dawid besef dat ons God se Gees dringend nodig het. “Skep vir my ‘n rein hart, o God. Gee my ‘n nuwe, standvastige gees” (Psalm 51:12 NLV).

Kies Jesus en hou met alles in jou aan Hom vas.

GEBED: My Hemelvader, dankie dat U die Skepper is van alles. Laat u Gees in my hart wees sodat ek U wil eer met my gedagtes, woorde en optrede. Amen.

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Here, help my praat

Sukkel jy om te bid of om met mense te praat? Dalk is dit vir jou moeilik om hardop te bid. Omdat God so lief is vir jou, het hy vir jou die Heilige Gees gegee om jou te help. Hy verstaan jou so goed — daarom het Hy alreeds die perfekte oplossing vir jou. Vertrou Hom daarvoor.

More

Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za