Here, help my praatVoorbeeld
Dag 4: EK GEBRUIK KWAAI WOORDE
"‘n Dwaas raak die vreeslikste goed oor ander kwyt. Dit maak mense woedend. Hulle wil later niks met hom te doen hê nie" (Spreuke 18:6 DB).
Hierdie vers het my baie laat nadink. Dikwels sê ons dinge sonder dat ons mooi dink hoe die ander persoon dit gaan hoor. Ons is soms gespanne en baie besig en reageer dan met woede-uitbarstings vanuit ons eie frustrasies. Ons woorde maak ander baie seer en soms is dit diegene wat die naaste aan jou is wat jy die seerste maak. Die prediker noem so iemand ‘n “dwaas.” En dan wonder ons soms hoekom mense nie van ons hou nie!
'n Dwaas word beskryf as iemand wat gek en onverstandig is. Ek het al baie keer gehoor hoe iemand onbeheersd kwaad word. Sodanige persoon se woorde klink beslis gek en onverstandig!
Iewers in my vroeë laerskooljare het ‘n onderwyseres se kwaai woorde tot gevolg gehad dat ek vir baie lank gedink het ek kan nooit “goed genoeg” wees nie. Gelukkig het God ingegryp en vir my in Graad 11 ‘n wonderlike onderwyser gestuur. Al sou hy kwaad wees (wat min gebeur het), was sy woorde altyd beheersd. Hy het deurgaans die positiewe kant raakgesien en elkeen met respek behandel. Hy het elkeen aangemoedig om die beste "jy" te wees wat jy kan wees. Ek kon weer in myself glo en jare later toe ek as onderwyseres voor my eie klas staan, was dit my grootste begeerte om ook so ‘n onderwyser vir ander te wees.
Spreuke 15:1 moet vir ons ‘n riglyn wees: “’n Sagte antwoord laat woede bedaar; ‘n krenkende woord laat woede ontvlam.” Dit laat nie net woede ontvlam nie, maar ook verontwaardiging, seerkry, hartseer, moedeloosheid, minderwaardigheid en onvergewensgesindheid. Gee dus altyd ‘n sagte antwoord.
Jesus het vir ons kom wys hoe om met mense te werk. Stap weg van dié wat jou afkraak of lelike goed van jou sê. Kies om net op Jesus te fokus. Kies om jou hart vry van alle gedagtes van haat en woede te hou. Laat die Heilige Gees jou eerder vul met sy woorde van waarheid, liefde, troos en genade.
GEBED: My Heer, vandag is ek so jammer oor al my kwaai woorde. Vergewe my asseblief en help my om u Gees toe te laat om my weer nuut te maak. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Sukkel jy om te bid of om met mense te praat? Dalk is dit vir jou moeilik om hardop te bid. Omdat God so lief is vir jou, het hy vir jou die Heilige Gees gegee om jou te help. Hy verstaan jou so goed — daarom het Hy alreeds die perfekte oplossing vir jou. Vertrou Hom daarvoor.
More
Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za