Here, help my praatVoorbeeld

Here, help my praat

DAG 3 VAN 7

Dag 3: EK PRAAT TE GOU

"Moenie te gou praat nie. Moenie oorhaastig iets aan God belowe nie. Onthou: God is in die hemel en jy is op die aarde. Laat jou woorde min wees" (Prediker 5:1 NLV).

Baie dikwels is ons so oorhaastig. Terwyl iemand praat, is ons besig om solank te dink wat ons wil sê en dan luister ons nie. Dieselfde gebeur wanneer ons met God praat. Ons is so haastig om ons eie behoeftes en versoeke vir Hom te gee dat ons vergeet met wie ons praat! Of nog erger: Ons bly nie stil sodat ons kan hoor wat God vir ons wil sê nie. Klink dit vir jou bekend?

Daarom leer Salomo ook vandag vir ons om eers stil te raak. Moenie dat jou besige gedagtes ook jou woorde besoedel met te veel praat nie. Dis selfs beter om net te luister as wat dit is om jou offer te bring (1 Samuel15:22).

Die priesters wat tot Baäl gebid het, het lank en aanhoudend gebid op die berg Karmel. Hulle het geen reaksie van Baäl gekry nie. Elia se gebed tot die lewende God wat hy aanbid was kort, kragtig en vol geloof. God het hom gehoor en sy gebed op ‘n wonderbaarlike wyse beantwoord (1 Konings18).

In Lukas 18:10–14 lees ons van die gebede van die Fariseër en die tollenaar. Ons hoef nie lang uitgerekte gebede te bid soos die Fariseër waar almal hom kon sien nie. God ken ons. Hy weet wat ons wil hê nog voordat ons vra (Psalm 139:4).

Ag, mag ek en jy maar ‘n hart hê soos hierdie tollenaar. Hy het liewers eenkant gaan bid en al wat hy kon uitkry was: “O God, wees my, sondaar, genadig!” Jesus se reaksie op hierdie twee se gebede was: “Ek sê vir julle: Hierdie man, eerder as die eerste een, gaan huis toe as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat homself verhef bo ander, sal verneder word, maar hy wat homself nederig ag, sal verhoog word” (Lukas18:14 NLV).

GEBED: My Here, vergewe my vandag dat ek so haastig is om te praat en my so oorgee aan my besige gedagtes. Help my om eers mooi te luister wat U vir my wil leer voordat ek my eie woorde voor U begin uitstort. Amen.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Here, help my praat

Sukkel jy om te bid of om met mense te praat? Dalk is dit vir jou moeilik om hardop te bid. Omdat God so lief is vir jou, het hy vir jou die Heilige Gees gegee om jou te help. Hy verstaan jou so goed — daarom het Hy alreeds die perfekte oplossing vir jou. Vertrou Hom daarvoor.

More

Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za