Here, help my praatVoorbeeld

Here, help my praat

DAG 6 VAN 7

Dag 6: VRIENDELIKE WOORDE

"Mooi woorde is soos heuning; dit is goed vir die gees en bevorderlik vir die lewe" (Spreuke 16:24 NLV).

In die Ou Testamentiese tyd was daar niks anders wat so soet was soos heuning wat direk van ‘n heuningkoek uitgehaal is nie. Dit is dan ook nie ‘n wonder dat die skrywer mooi woorde met heuning vergelyk nie.

Dit is noodsaaklik dat ons iemand opbeur wat bekommerd of neerslagtig is. Deur kwaai, ongeduldig of neerhalend te wees, gaan ons niemand help nie. Onthou dus maar “’n vriendelike woord vrolik hom op” (Spreuke 12:25).

Wanneer iemand nie soos jy dink, doen of praat nie, is 'n mens geneig om nie vriendelik met so iemand te wees nie. Ons vergeet dat God ons verskillend met verskillende talente en gawes gemaak het. Neem dus die besluit om vir ander te glimlag. Wees doelbewus vriendelik met jou kollegas (ja, al is jy baie besig) en maak maar tyd om uit te vra na hul welstand. Staan ‘n paar sekondes stil om ‘n vriendelike woord vir die werker wat jou kantoor uitvee, te gee.

“Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord” (Kolossense 4:6). Paulus praat met die gemeentelede en hy moedig hulle aan om juis met wysheid teenoor die mense op te tree wat nog nie in die gemeente is nie. Hy sê ons moet in ons verhouding met buitestanders slim optree deur elke kans te benut.

Ek dink nou aan Rut en Naomi van wie ons in die Bybel lees. Rut was Naomi se skoondogter. Nadat al die mans in hul gesin oorlede is, was dit haar vriendelike woorde en doelgerigte bystand wat Naomi bemoedig en getroos het. Sy het ‘n besluit geneem om vriendelik en hulpvaardig te wees — selfs in ‘n vreemde land met vreemde mense. God het haar toe beloon vir haar getrouheid deur te bewerkstellig dat sy op Boas se plaas kon gaan are optel (Rut 2:11 - 12). Sy vriendelikheid en omgeehart het tot gevolg gehad dat hy en Rut getrou het en Naomi dus by hulle kon bly.

Jy mag dalk net die instrument wees wat God wil gebruik om iemand se lewe beter te maak deur daardie persoon vriendelik behulpsaam te wees.

GEBED: My Here, help my asseblief om vriendelik te praat met mense. Gee tog dat my woorde van u liefde sal getuig. Amen.

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Here, help my praat

Sukkel jy om te bid of om met mense te praat? Dalk is dit vir jou moeilik om hardop te bid. Omdat God so lief is vir jou, het hy vir jou die Heilige Gees gegee om jou te help. Hy verstaan jou so goed — daarom het Hy alreeds die perfekte oplossing vir jou. Vertrou Hom daarvoor.

More

Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za