Here, help my praatVoorbeeld
Dag 2: EK BID RYMPIES
"Moet ook nie dieselfde rympie oor en oor sê wanneer jy bid nie. Party mense wat God nie reg ken nie, bid so. Hulle dink dat hulle Hom met ‘n stortvloed woorde kan ompraat om na hulle te luister" (Matteus 6:7 DB).
Dis maklik om rympies op te sê wanneer jy bid, maar die probleem is dat jy so gewoond raak aan die woorde dat jy nie meer dink wat jy sê nie en dit dus nie uit jou hart kom nie.
Daar word vertel van ‘n Joodse gebed wat altyd begin met die woorde: “Hoor Israel. Die Here is ons God. Geseënd is God se naam. Sy wonderbaarlike koninkryk is vir ewig en ewig ...” Ek hou hiervan, want ons vergeet dikwels met wie ons praat in gebed. Ja, ons praat met God Almagtig. Hy is die Skepper van die hemel en die aarde. Hy is die Alfa en Omega, die Begin en die Einde (Openbaring 21:6 NLV). Daarom moet ons met baie respek en Goddelike verering met Hom praat.
Soms mompel mense net so ‘n vinnige rympie voor ete. Die woorde is verlore, want niemand hoor wat die persoon sê nie. Ek wonder altyd: Hoekom dan bid? Hoeveel respek het jy vir God as jy sommer maar so met Hom praat? Hoeveel dankbaarheid het jy in jou hart vir dit wat op jou tafel is as jy nie eens omgee wat jy sê nie?
Jesus gee die perfekte riglyn in Matteus 6:7 NLV: “Wanneer julle bid, moenie met woorde mors soos die ongelowiges nie. Hulle dink hulle stortvloed woorde sal maak dat hulle gebede beantwoord word.”
Wees doelbewus gefokus wanneer jy bid:
Loof en prys God. Eer Hom vir sy almag, liefde en genade. Sê dankie vir jou kos, klere of waarvoor jy ook al dankbaar is. Dan sê jy vir God jammer vir jou sonde en vra sy vergifnis daarvoor. Bid dat God ook ander vergewe. Eers daarna bid jy vir jou geliefdes se beskerming en laastens vra jy dan vir God om jou van die Bose te bewaar.
Hou jou etenstydgebed kort en gebruik liewer jou alleentyd by God om al jou ander behoeftes en lofprysinge voor Hom te bring.
GEBED: My Here God, hoe groot is u liefde en genade. Dankie dat U my help wanneer ek met U praat. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Sukkel jy om te bid of om met mense te praat? Dalk is dit vir jou moeilik om hardop te bid. Omdat God so lief is vir jou, het hy vir jou die Heilige Gees gegee om jou te help. Hy verstaan jou so goed — daarom het Hy alreeds die perfekte oplossing vir jou. Vertrou Hom daarvoor.
More
Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za