Leesplan inligting

Moederskap Vol Genade - 43 Dae van Bemoediging vir Ma'sVoorbeeld

Moederskap Vol Genade - 43 Dae van Bemoediging vir Ma's

DAG 41 VAN 43

Leef 'n Lewe van Hoop

Lees: Romeine 15:13

SOAP: Romeine 15:13

"Mag God, die bron van hoop julle, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!"

Oordenking

Liewe vriendin, om 'n lewe van hoop te lewe is nie net 'n keuse nie, maar 'n geskenk van God. Hierdie vers is nie 'n blote wens nie. Dit is 'n belofte – 'n belofte dat indien ons in Hom glo, ons lewens gevul kan word met 'n oorvloed van vreugde, vrede en hoop.

Moederskap is 'n pad gevul met onsekerhede en uitdagings, oomblikke van ongekende vreugde en tye van oorweldigende verantwoordelikhede. Tydens hierdie op- en afdraandes word ons hoop in Jesus ‘n anker wat ons bestendig en staande hou. Dit is daardie stille vertroue dat ons kan wéét dat God in beheer is, ongeag hoe vandag lyk en dat Hy alles vir ons beswil laat meewerk. Ons kan seker wees dat diegene wat in Jesus as Verlosser en Saligmaker glo, eendag, vir ewig, by Hom sal wees. Dit is ons uiterste hoop.

Die hoop wat ons in Christus het, is nie 'n passiewe hoop nie, maar 'n aktiewe hoop. Dit is om elke dag deur die bril van God se beloftes te kyk en te vertrou dat Hy by ons is; dat Hy ons sal lei en ons sal bemagtig deur sy Gees. Selfs te midde van beproewinge en moegheid, stel hierdie hoop ons in staat om elke dag tegemoet te gaan met 'n hart vol vreugde en vrede.

Laat ons dan aan hierdie hoop vashou, terwyl ons die hoogte- en laagtepunte van moederskap deurkruis. Kom ons laat toe dat die Heilige Gees ons vul met hierdie onwrikbare vreugde en vrede, sodat ons hierdie hoop kan deel en God se liefde na ons geliefdes kan uitstraal.

Gebed

Liewe Jesus, vul my hart met u vreugde en vrede terwyl ek op U vertrou. Help my om 'n lewe van hoop te leef, geanker in u beloftes, sodat ek 'n bron van bemoediging en krag vir my gesin kan wees. Help my elke dag deur die krag van U Heilige Gees. Amen.

Vraag

Wat is praktiese maniere waarop jy 'n gees van hoop in jou daaglikse lewe as 'n ma kan kweek, wat God se vreugde en vrede aan diegene rondom jou weerspieël?

Dag 40Dag 42

Aangaande hierdie leesplan

Moederskap Vol Genade - 43 Dae van Bemoediging vir Ma's

Hierdie Bybelstudie moedig jou aan om deur die lief en leed van moederskap op Jesus staat te maak. Leer hoe om ‘n hart van genade, oorgawe en liefde te kweek terwyl jy ‘n evangelie-gesentreerde huis bou waar kinders in d...

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lovegodgreatly.com/Afrikaans

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid