Sewe Sondes Wat Jou Lewe Sal VernietigVoorbeeld

Sewe Sondes Wat Jou Lewe Sal Vernietig

DAG 5 VAN 14

Bevryding van 'n kritiese gees (2)

'n Kritiese gees is 'n vorm van trots. Dit het altyd tot gevolg dat mense hulleself bo ander verhef, die lewens van ander mense en hul bydraes verag of as minderwaardig beskou. Mense met 'n kritiese gees ontwikkel "harde" harte, word genadeloos en weet altyd beter.

Vra die Heilige Gees om vir jou jou hart te wys. Vir baie is die moeilikste deel om te erken dat hulle 'n kritiese gees het en veroordelend is. Vra die Heilige Gees waar dit vandaan kom. Jy sal voorvalle vind waar mense jou seergemaak, verneder of verwerp het, en wortels van bitterheid in jou hart toegelaat het. Vergewe waar nodig. Lê al hierdie dinge by die voete van Jesus neer.

Jy moet kies om "nee" te sê vir hierdie ding. Begin dadelik om krediet aan ander mense te gee vir wat hulle reg doen — komplimenteer hulle waar daar komplimente nodig is. Doen moeite om mense aan te moedig en help hulle om selfs meer suksesvol te wees as wat hulle reeds is. Bid dat God hulle sal seën, gebruik en beskerm.

Soek iemand na aan jou wat jou "aanspreeklik" kan hou vir jou optrede en gesprekke. Ons moet radikaal optree teen hierdie sonde in ons lewens. Dit is 'n gevaarlike sonde wat ons onder God se oordeel bring en die werk van die Heilige Gees in ons lewens verhinder.

Belangrik: Daar is min mense wat nie sukkel met ‘n kritiese gees nie. Ondersoek jou hart.

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Sewe Sondes Wat Jou Lewe Sal Vernietig

Hierdie sewe sondes en ingesteldhede is vernietigend — vir ons eie lewens en dit kan ook baie skade aan ander mense aanrig. Hierdie oordenking is baie belangrik vir ons almal, want die meeste mense het 'n stryd hiermee.

More

Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.com/