Van Gebroke Na Herstel - Die Boek NehemiaVoorbeeld
Lees: Nehemia 12:44–47; Levitikus 7:28–36; 1 Timoteus 5:17–18
SOAP: 1 Timoteus 5:17–18
"Die ouderlinge wat goeie leiding gee, behoort dubbele erkenning te kry, veral dié wat hard werk deur te preek en onderrig te gee, want die Skrif sê: 'Jy mag nie 'n bees waarmee jy graan dors, se bek toebind nie,' en ook: 'Die arbeider is geregtig op sy loon.'"
Oordenking
'n Deel van die hervestiging van aanbidding en om gemeenskap met God eerste te stel, was om te sorg vir die priesters en diegene wat die mense bedien. Die Leviete was afstammelinge van Levi en hulle hele stam het nie ‘n toegewese deel van die land gekry soos die ander elf stamme nie. Hulle voorsiening het egter gekom van die offers wat die mense by die tempel gebring het. God het vir hulle ‘n spesifieke deel gegee en vir hulle gesorg op dieselfde manier as wat Hy vir die res van sy volk voorsien het. Binne die stam van Levi is die nageslag van Aäron as priesters aangewys en ook hulle het ‘n spesifieke deel van die Here ontvang deur middel van tempeloffers.
God het ‘n stelsel opgestel om te sorg vir diegene wat sy volk bedien het. Hy het die stam van Levi en die nageslag van Aäron afgesonder om die mense te wees wat geslagte lank die volk sou bedien. Hulle is deur die mense gevoed deur die offers wat hulle bring. Toe die mense God gevolg en in sy weë gewandel het, was hulle getrou om die offers te bring wat die priesters gevoed het. Dit was ‘n teken dat Israel geestelik gesond was as die priesters genoeg kos gehad het. Terwyl die Jode ‘n stelsel en patroon van aanbidding hervestig het, het hulle seker gemaak dat hulle die porsies vir die priesters en Leviete opsysit soos God beveel het.
God het altyd voorsiening gemaak vir diegene wat Hy aanstel om sy volk te bedien. In sy brief aan Timoteus het Paulus hom opdrag gegee om diegene te eer wat effektiewe leierskap aan die liggaam van Christus verskaf het. Hy het Timoteus daaraan herinner om diegene in die bediening te ondersteun en om die gemeente aan te moedig om dit ook te doen.
Vandag maak ons nie opofferings en offers by ‘n tempel nie, maar ons moet omgee vir diegene wat God as leiers oor die geloofsgemeenskap gestel het. God het baie mense aangestel om die liggaam van Christus op ‘n verskeidenheid maniere te bedien en as gelowiges is dit ons verantwoordelikheid om hulle finansieel te ondersteun, ongeag die bedrag wat ons ook al kan gee. Ons getrouheid om vir bedienaars en kerkleiers te gee en te ondersteun is ‘n direkte belegging in die bevordering van die koninkryk van God. Mag ons getrou wees om altyd diegene te ondersteun en te dien wat God geroep het om die kerk te ondersteun en te dien.
Aangaande hierdie leesplan
Was jy al ooit so stukkend dat jy nie geweet het wat jy volgende moet doen nie? Ongeag of ons dit kan sien of nie, God is altyd aan die werk. Hy is die Een wat elke lewe, situasie, slegte besluit of pynlike ervaring kan herstel en beredder. Hierdie Bybelstudie oor die boek Nehemia fokus op hoe ons moet reageer wanneer ons sien hoe kragtig God in ons lewens werk.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lovegodgreatly.com/Afrikaans