Van Gebroke Na Herstel - Die Boek NehemiaVoorbeeld
Lees: Nehemia 13:15-22; Markus 2:23-28
SOAP: Markus 2:27
"Jesus het verder vir hulle gesê: 'Die sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die sabbatdag nie.'"
Oordenking
Die geestelike herbouing van God se volk het nie oornag plaasgevind nie. Trouens, die laaste gedeeltes van Nehemia dek etlike dekades, en toon die maniere waarop Nehemia en die leiers die mense voortdurend reggehelp het wanneer hulle van die wet afgedwaal het. Net soos hulle herhaaldelik met vreemde nasies ondertrou het, het die mense ook in die gewoontes verval om nie die sabbat te eerbiedig nie.
Nehemia het die mense tereggewys en selfs wagte opgestel om te verseker dat die sabbat geëer sou word soos God dit bedoel het. Nehemia se voorneme om dit te doen, was om die volk te beskerm teen die sonde om die sabbat te ontheilig, een van die faktore wat gelei het tot hul afgodery en ballingskap in vorige geslagte. Nehemia het daarop gemik om die mense te help om volgens God se opdragte te wandel en nie in ‘n sondige patroon te verval nie. Sy hart was om God te eer en sy volk te bewaar soos hy gedoen het sedert hy die eerste keer begin het om die muur te herbou.
Met verloop van tyd het die wette rondom die sabbat meer rigied geword. Die godsdienstige leiers het ekstra riglyne en reëls opgestel om te verseker dat niemand die sabbatswette, of inderdaad enige wette, kon oortree nie. Die probleem was dat hulle harte nie reg was nie. Hulle het dít wat werklik belangrik was uit die oog verloor: om God te eer en Hom te vertrou om te voorsien, al het hulle ‘n rusdag geneem. In plaas daarvan het hulle baie rigiede reëls gemaak, hulle het tevrede met hulself gevoel omdat hulle dit onderhou het en diegene wat dit nie gedoen het nie, veroordeel.
Jesus het vir ons ‘n ander manier gewys. Hy het die godsdiensleiers en sy volgelinge die ware bedoeling van die wet gewys: om ‘n tyd van rus en feesviering vir God se volk te voorsien. Die genesing wat Hy op die sabbat gedoen het, het gelei tot rus en feesviering. Die sabbat is geskep om rus vir God se mense te voorsien sodat hulle sal onthou dat Hy alleen hulle onderhou.
Vandag kan ons God eer deur die sabbat te onderhou. Alhoewel ons nie aan die sabbatswet gebind is soos die Jode was nie, is dit ‘n belangrike praktyk vir Christene om ‘n dag te neem waarop hulle nie werk nie om God se goedheid te vier. Ons hou op werk, wys ons vertroue in God en sy vermoë en gewilligheid om vir ons te voorsien. Ons vier sy goedheid en kom tot stilstand om sy voortdurende getrouheid te onthou. Mag ons mense van geloof wees, wat stilstaan om in God se krag en vermoë te rus en sy goedheid te vier.
Aangaande hierdie leesplan
Was jy al ooit so stukkend dat jy nie geweet het wat jy volgende moet doen nie? Ongeag of ons dit kan sien of nie, God is altyd aan die werk. Hy is die Een wat elke lewe, situasie, slegte besluit of pynlike ervaring kan herstel en beredder. Hierdie Bybelstudie oor die boek Nehemia fokus op hoe ons moet reageer wanneer ons sien hoe kragtig God in ons lewens werk.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lovegodgreatly.com/Afrikaans