Bid Deur AngstigheidVoorbeeld

Praying Through Anxiety

DAG 6 VAN 7

Breek die Angskringloop

Hoe hanteer jy jou angstigheid? Maak jy op iemand of iets staat om jou daardeur te kry? Ignoreer jy jou angstige gedagtes in die hoop dat dit sommer net sal weggaan?

Angstigheid sal nie vanself weggaan nie en veroorsaak chaos in die liggaam, denke en gees. Dit put jou uit. Jy staan moeg op en elke dag se bekommernis lei net na nog méér angs. Jy moet uit hierdie angskringloop losbreek!

Dit verg harde werk om angstigheid die hoof te bied. Dit behels die hantering van leuens waarin jy geglo het, die seerkry waaraan jy vasgekleef het en verkeerde denkpatrone wat jy jou eie gemaak het.

Om angstigheid te hanteer, verg ook die hulp en ingryping van God. Jesus moedig diegene wat uitgeput en oorlaai is aan om na Hom te kom waar daar rus is, want sy juk is sag en sy las is lig (Matteus 11:28-30). Hy wil nie hê dat jy die lewe se beproewings en bekommernisse alleen in die gesig moet staar nie. Hy bied aan om as jou troos, krag en hoop langs jou te stap.

As jy vandag met angstigheid worstel, moet jy gewillig wees om by Jesus moed te skep sodat jy van jou bekommernisse ontslae kan raak. Gee die volgende treë om uit die greep van angstigheid los te breek en jou reis na vryheid te begin:

  • Ondersoek wat die oorsake van jou angstigheid is (Psalm 139:23-24). Ruim tyd in om te bid. In plaas daarvan om vir God te vra om jou angstigheid te verwyder, kan jy Hom eerder vra om aan jou te openbaar wat dit veroorsaak. Is dit vir jou moeilik om God te vertrou? Glo jy dat Hy jou so liefhet dat Hy jou wil help? Glo jy God is so magtig dat Hy jou uitdagende omstandighede kan hanteer? Gee aan God die geleentheid om die terreine in jou denke en gedrag te openbaar wat in ooreenstemming met sy waarheid gebring moet word.
  • Hou op om vir vrees bang te wees (2 Timoteus 1:7). Vrees voed vrees. Hoe meer ons aan vrees dink, hoe groter word dit in ons denke. Vrees word met geloof bestry. In plaas daarvan om op dit wat jy vrees te fokus, moet jy eerder op God fokus, want Hy het die krag om die angstighede te oorkom wat jou so verteer.
  • Vra vir God om jou denke te vernuwe (Filippense 4:8). Vra vir God om jou ongesonde denkpatrone met sy waarheid te vervang. Skryf die volgende vyf teksverse neer en dink daaroor na: Filippense 4:6-8, Kolossense 3:2, Jesaja 41:10, Psalm 4:9 en Josua 1:9. (Môre keer ons hierna terug). Laat die Woord van God toe om jou te deurweek en krag te gee.
  • Bied jou gebede en versoeke aan God (1 Petrus 5:7). Deel jou bekommernisse en vrese met God. Hy hoor jou en wil jou help. Sy Gees sal jou bemagtig om jou vrese te oorwin wanneer jy dit op Hom werp.

Vandag se Gebed:

Here, bemagtig my om by my omstandighede verby te kyk. Oorwin my angs. Help my om my pogings om beheer te neem, van my bekommernisse te ontsnap of my steeds te bekommer, liewer vir u volmaakte vrede te verruil. Ek kies om U en u wysheid in elke omstandigheid te vertrou. Ek kies om al my sorge op U te werp omdat U vir my sorg. Ek gee vandag — weer 'n keer — al die dinge in my hart wat my gevange hou, aan U oor. Here, wandel saam met my in vrede en oorwinning oor angstigheid. In die Naam van Jesus. Amen.

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Praying Through Anxiety

Angstigheid kan ons lewens enige oomblik bekruip. Dit beteken egter nie dat dit by ons hoef te bly nie! Jy kan angstigheid en die vernietigende effek daarvan oorwin deur met God 'n verbintenis te maak in gebed en met die kragtige beloftes in sy Woord, ongeag wat tans in jou lewe aangaan. Reis die volgende paar dae saam met ons terwyl ons stappe doen om die houvas wat angstigheid op ons lewens het, te beëindig en dit met vrede uit die Woord van God te vervang.

More

Ons wil graag die Amerikaanse Bybelgenootskap bedank vir die voorsiening van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://americanbible.org/prayer/