Bid Deur AngstigheidVoorbeeld

Praying Through Anxiety

DAG 1 VAN 7

Werklike Geveg. Werklike Redding!

Liewe vriend, die geveg waarin jy gewikkel is, is werklik. Die stryd in jou hart, die vrees wat jou verlam, die leuens wat jou gevange hou — selfs die onophoudelike golwe van skaamte wat dreig om jou te oorweldig, terwyl jy probeer om dit weg te steek sodat niemand jou gebrokenheid moet sien nie.

Daar is egter hoop, want Jesus se redding is ook werklik.

Jesus het jou lief. Sy doel vir jou is nie om deur angstigheid verbrysel te word nie. Hy het mos die dood self oorwin! Jy kan dus met die sekerheid lewe dat Hy enigiets kan oorwin, insluitende angstigheid.

Die lewe bly steeds moeilik en baie dinge gebeur. Moeilike goed. Goed wat veroorsaak dat ons bekommerd en bevrees raak. Jesus sal ons egter nie in daardie moeilike oomblikke verlaat nie. Jesus is ook nie vir jou kwaad omdat jy worstel nie. Jesus sal nie met jou raadop raak omdat jy nog nie verander het nie.

In plaas daarvan, sal Jesus in vriendelikheid en deernis sê: "Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie" (Johannes 14:27).

Jesus wil vir jou vrede gee. Hy wil jou vrymaak van die vesting van vrees en jou genees.

Dit gebeur dalk nie oornag nie. Daar is ook geen waarborg dat dit maklik sal wees nie. Jy kan moontlik die ondersteuning van jou plaaslike kerk nodig hê. Miskien het jy selfs die hulp van 'n gelisensieerde berader of professionele medikus nodig. Hoe dit ook al sy, jy kán angstigheid oorwin.

Hierdie leesplan sal jou met Bybelse hulpbronne toerus om jou angstigheid te kan hanteer. Jy sal leer wat angstigheid regtig is, wat die Skrif oor bekommernis en angstigheid sê en wat God vir jou in jou stryd kan doen. Jy sal ook BID.

Gebed verander sake. Ons bid omdat ons wéét God kan ons omstandighede verander — en Hy kan óns ook verander. Terwyl jy in jou angstigheid bid, moet jy onthou dat God luister en jou uitroepe om hulp sal beantwoord.

Indien jy dus vandag in 'n stryd met angstigheid gewikkel is, moet jy nie moed verloor nie. Jy is 'n onvoltooide projek. Tog is jy ook in Jesus 'n oorwinnaar.

Vandag se Gebed:

Vader, ek bely dat ek van angstigheid bevry wil word. Maak my bereid om op hierdie reis te gaan en die nodige treë tot ware genesing te gee. Ek het nodig om te glo dat ek waarlik genees kan word. Ek bid dit in die Naam van Jesus. Amen.

–––

Elke leser het 'n unieke verhaal hoe ons met die Bybel omgaan. Ons nooi jou dus uit om op die skakel hieronder te klik sodat ons meer van lesers soos jy te wete kan kom. Jou deelname sal die Amerikaanse Bybelgenootskap help om steeds hoë kwaliteit Bybelgebaseerde bronne oral aan mense te bied en dit sal ook die ontwikkeling van nuwe hulpbronne toelig.

Begin met die Vraelys

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Praying Through Anxiety

Angstigheid kan ons lewens enige oomblik bekruip. Dit beteken egter nie dat dit by ons hoef te bly nie! Jy kan angstigheid en die vernietigende effek daarvan oorwin deur met God 'n verbintenis te maak in gebed en met die kragtige beloftes in sy Woord, ongeag wat tans in jou lewe aangaan. Reis die volgende paar dae saam met ons terwyl ons stappe doen om die houvas wat angstigheid op ons lewens het, te beëindig en dit met vrede uit die Woord van God te vervang.

More

Ons wil graag die Amerikaanse Bybelgenootskap bedank vir die voorsiening van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://americanbible.org/prayer/