Bid Deur AngstigheidVoorbeeld
Angstigheid en Eensaamheid
Een van die vernietigende gevolge van angstigheid, is die oortuiging dat jy nie net in hierdie hopelose situasie vasgevang is nie, maar dat jy ook alleen in jou vrees is. Dit is nie waar nie! Ons het gister gesien hoe algemeen angstigheid voorkom. Tog is ons steeds in die versoeking om onsself af te sonder wanneer ons deur angs oorval word. Ons koester gedagtes soos: Ek wil nie ander met my probleme opsaal nie. Wat sal ander van my dink as ek hulle van my worstelstryd vertel?
Eensaamheid vererger egter moeilike omstandighede. Jy is nie veronderstel om die lewe se moeilikhede alleen te trotseer nie.
Wanneer Jesus gedurende die moeilikste tyd van sy lewe tot God — en ander — nader, verskaf Hy 'n pragtige voorbeeld hoe ons vrees en angstigheid moet hanteer (Markus 14:32-42). Op die vooraand van sy kruisiging, het Jesus in die tuin van Getsemane geweldig beangs en doodsbenoud geword. Hy keer Hom tot sy vriende en vertel aan Petrus, Jakobus en Johannes van sy benoudheid en vra hulle om by Hom te bly en te waak. Dan wend Hy Hom in gebed tot God.
Hiermee stel Hy die voorbeeld dat dit reg en nodig is om in angsgevulde oomblikke na ander uit te reik. As die Seun van God in sy uur van uiterste nood om ondersteuning uitreik, hoeveel te meer moet ons na God en ander in ons angs uitreik?
Reik uit na 'n vriend wat jou kan help wanneer jy angstig voel. 'n Vriendelike stem of 'n gerusstellende boodskap kan die situasie ontlont. Die teenwoordigheid van 'n ander persoon — al is dit deur middel van tegnologie — kan 'n verskil maak.
Selfs al het ons geen vriende na wie ons kan uitreik nie, verseker die Bybel ons dat God altyd by ons is. Hy wag geduldig dat ons by Hom om hulp moet aanklop: "God is vir ons 'n toevlug en 'n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood" (Psalm 46:2).
Hier is 'n paar treë wat jy kan oorweeg om ander vir hulp in jou angstige oomblikke in te nooi.
- Lees Psalm 94:18-19. Wat kan God doen wanneer jy angstig is?
- Hoe kan dit help om iemand byderhand te hê? Hoe het jy al gedurende jou angstige tye die liefde van God ervaar? Het jy iemand na wie jy in oomblikke van angs en eensaamheid kan uitreik?
- Hoe sal jy met jou angs tot God nader? Wat is jou verwagtinge?
Vandag se Gebed:
Here, ek is angstig en alleen. Ek het u vertroosting nodig. Nader tot my terwyl ek by U aan my hartseer uiting gee. Verseker my asseblief dat U my nooit sal verlaat wanneer ek U die nodigste het nie. Vader, help my ook om 'n gemeenskap te vind wat my kan ondersteun. Leer my om openhartig en weerloos te wees sodat ek die hulp kan ontvang wat ek nodig het. In die Naam van Jesus. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Angstigheid kan ons lewens enige oomblik bekruip. Dit beteken egter nie dat dit by ons hoef te bly nie! Jy kan angstigheid en die vernietigende effek daarvan oorwin deur met God 'n verbintenis te maak in gebed en met die kragtige beloftes in sy Woord, ongeag wat tans in jou lewe aangaan. Reis die volgende paar dae saam met ons terwyl ons stappe doen om die houvas wat angstigheid op ons lewens het, te beëindig en dit met vrede uit die Woord van God te vervang.
More