Bid Deur AngstigheidVoorbeeld

Praying Through Anxiety

DAG 2 VAN 7

Wat is Angstigheid?

Angstigheid kan op ons afstorm wanneer ons omstandighede of ons toekoms nie onder ons beheer is nie.

Dis moontlik wat jy voel voor 'n skooltoets, 'n voorlegging op kantoor, 'n eerste afspraak, 'n huwelik; of terwyl jy vir die uitslae van 'n mediese toets wag. Angstigheid wil jou metgesel wees wanneer jy voor 'n finansiële krisis te staan kom, of wanneer 'n verhouding onherstelbare skade opgedoen het.

Dit is 'n normale reaksie om angstig te voel gedurende onverwagte gebeure, dreigende toekomstige onsekerhede of selfs weens trauma uit die verlede. Angstigheid dreig egter om dikwels meer as net 'n vlietende emosie te wees. As jy nie in beheer is nie, loop jy gevaar dat dit jóú beheer en dit word in jou hart en denke gevestig.

Wanneer dit wortel geskiet het, kan angstigheid liggaamlike siektes, slapelose nagte en diepgewortelde hartseer veroorsaak. Dit het 'n invloed op jou verhoudings met ander en kan tot 'n voortdurende kringloop van ongesonde keuses lei. Mense wat met angstigheid worstel, kom agter dat hulle geen ruimte vir gevoelens van vreugde of vrede het nie.

God wil egter nie hê jy moet in angs lewe nie. Tewens, God wil aan jou vrede in ruil vir jou sorge gee. Hy belowe dat jy by Hom stil en rustig kan wees, want Hy beskerm en red jou (Psalm 62:6 DB). Wat 'n wonderlike ruil!

As jy vasgevang voel in 'n voortdurende spiraal van angstige gedagtes, wil God die storm in jou stilmaak — Hy beskik oor die mag om dit te doen! Hy ken die toekoms en vandag — nou — staan Hy gereed om in jou omstandighede tussenbeide te tree en jou veilige hawe te wees.

Gee die volgende treë wat jou kan help om angstigheid in jou lewe te identifiseer en dit vir die vrede van God te verruil.

  • Lees Psalm 62:6-9 (DB). Kan jy jou voorstel wat dit beteken om slegs op God te vertrou? Watter invloed dink jy sal dit hê op die angstige belewenis waarvoor jy tans staan as jy jou hoop op 'n almagtige en liefdevolle God plaas?
  • Die psalmis dring aan by die kinders van die Here: "Praat julle harte leeg by Hom" (vers 9). Het jy dit al gedoen? Wat word in vers 8 belowe as jy "voor Hom staan met jou probleme"?
  • Wat sal dit van jou verg om vandag die tree te neem en op God staat te maak?

Vandag se Gebed:

Dankie Vader dat U my veilige hawe is na wie ek my sorge kan bring. Ek is alweer angstig omdat ek ______________ in die gesig staar. Help my om op U staat te maak om my sterke Beskermer te wees. Ek bid om u vrede terwyl ek te staan kom voor omstandighede wat ek nie kan beheer nie. Vandag stel ek my hoop op U en u oneindige wysheid en krag. In die Naam van Jesus. Amen.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Praying Through Anxiety

Angstigheid kan ons lewens enige oomblik bekruip. Dit beteken egter nie dat dit by ons hoef te bly nie! Jy kan angstigheid en die vernietigende effek daarvan oorwin deur met God 'n verbintenis te maak in gebed en met die kragtige beloftes in sy Woord, ongeag wat tans in jou lewe aangaan. Reis die volgende paar dae saam met ons terwyl ons stappe doen om die houvas wat angstigheid op ons lewens het, te beëindig en dit met vrede uit die Woord van God te vervang.

More

Ons wil graag die Amerikaanse Bybelgenootskap bedank vir die voorsiening van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://americanbible.org/prayer/