Bid Deur AngstigheidVoorbeeld
Wanneer Bekommernis Buite Beheer Raak
Die Bybel maak dikwels van bekommernis melding. Dit is waarskynlik omdat ons soveel tyd daaraan afstaan. 'n Studie deur die Amerikaanse Psigiatriese Vereniging in 2022, het 'n jaarlikse stelselmatige toename in totale angsvlakke getoon, terwyl twee uit elke vyf deelnemers hul geestesgesondheid as swak bestempel het.
Ervaar jy ook 'n toename aan kommer?
As ons nie oor ons harte waak nie, kan die lewe se druk ons tot bekommernis oor die toekoms dryf. Kommer word maklik geprikkel. As ons dit nie voortdurend deur 'n verbintenis met die Woord van God en gebed onderbreek nie, kan bekommernis ons in 'n spiraal van uitmergelende angstigheid aftrek. Hoe meer bekommerd ons is, hoe méér word ons kommer!
Jesus bied ons egter vandag gedagtes van krag en hoop oor ons bekommernis. Hy maak dit duidelik dat ons nie bekommerd moet wees nie. Hy moedig ons aan om ons kommer op Hom te werp (1 Petrus 5:7). In die bergrede, die lang versameling van Jesus se onderrig — wat in groot besonderhede in die Evangelies voorkom — herhaal Hy dit vyf keer.
Die oproep "moenie vrees nie", kom 365 keer in die Bybel voor. Omdat God weet van ons geneigdheid om ons te bekommer, wil Hy ons dalk graag elke dag van die jaar daaraan herinner dat ons Hom kan vertrou om ons vrese te hanteer.
Wat prikkel jou om bekommerd te raak? Jesus sê ons moet eerder besorgd wees oor wat God van ons wil hê. Dán, belowe God, sal Hy vir al die ander dinge sorg (Matteus 6:33).
Hoe verskil sy benadering van die wyse waarop jy nou leef? Dink terug. Waaroor het jy jou vandag bekommer? Wat van verlede week, verlede maand of verlede jaar? Wat het verander? Wat leer jy uit die Woord van God wat jou kan help om jou nie te bekommer nie, selfs wanneer dinge nie dadelik verander nie?
Gee die volgende treë om deur vandag en elke dag van die jaar, jou fokus op God te hou:
- Lees Matteus 6:25-34. Wat sê hierdie gedeelte vir jou oor jou persoonlike bekommernisse? Deur watter sorge word jou aandag opgeëis? Gee elkeen aan God.
- Hoe sal jy voel as Jesus voor jou staan en vir jou sê dat Hy nou in jou behoefte wil voorsien? Raak nou in gebed voor die Here stil terwyl jy oor vandag se gedeelte nadink.
- Wag vir 'n paar oomblikke in stilte terwyl jy in God se teenwoordigheid is. Ontvang dan die gawe van sy vrede in ruil vir jou vrees. Hoe sal dit jou laat voel as jy deur die res van die dag sy vrede met jou saamdra?
Vandag se Gebed:
Here, as bekommernis 'n Olimpiese item was, sou ek 'n medaljewenner gewees het! Leer my om my nie te bekommer of die geheelbeeld van u liefde en doel vir my lewe uit die oog te verloor nie. Ek voel vasgevang deur vrees, maar vandag wil ek my bekommernisse vir u vrede verruil. Plaas vandag in my hart die versekering van u ewigdurende liefde en voorsiening in elke behoefte wat ek het. In die Naam van Jesus. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Angstigheid kan ons lewens enige oomblik bekruip. Dit beteken egter nie dat dit by ons hoef te bly nie! Jy kan angstigheid en die vernietigende effek daarvan oorwin deur met God 'n verbintenis te maak in gebed en met die kragtige beloftes in sy Woord, ongeag wat tans in jou lewe aangaan. Reis die volgende paar dae saam met ons terwyl ons stappe doen om die houvas wat angstigheid op ons lewens het, te beëindig en dit met vrede uit die Woord van God te vervang.
More