Hy Sien, Hy Ken, Hy Gee Om — Die Evangelie van LukasVoorbeeld
Lees Lukas 19:45-21:38
SOAP Lukas 21:17-19
"En julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word, maar daar sal selfs nie eens 'n haar van julle kop af val nie. Deur julle volharding moet julle julleself red."
Oordenking
In die dae voor sy inhegtenisneming, verhoor en kruisiging het Jesus in Jerusalem in die tempelhowe onderrig gegee. Hy was toe al in 'n stryd met die godsdienstige leiers gewikkel en hulle het voortgegaan om Hom teen te staan. Alhoewel hulle Hom herhaaldelik probeer vasvra het, het Jesus hulle altyd met wysheid en gesag geantwoord. Jesus het gesag en ‘n begrip van die wet getoon wat ver bo dít was wat hulle geweet het en hulle het Hom daarvoor gehaat.
Alhoewel die teenkanting teen Hom toegeneem het, het Jesus aangehou om die skares te onderrig en sy dissipels te bedien. Hy het geweet wat sou kom en Hy het sy dissipels voorberei vir wat hulle in die gesig sou staar. Hy het belowe om by hulle te wees wanneer hulle ook teenstand en vervolging ondervind en Hy het vir hulle gesê waarvoor om op te let wat die tekens van sy wederkoms was.
Die dissipels sou Jesus se brutale kruisiging en dood aanskou kort nadat Hy hierdie woorde gesê het. Later het hulle vervolging en dood in die gesig gestaar, omdat hulle volgelinge van Jesus was. Die vroeë kerk, wat onder die eerstes was wat Lukas se Evangelie gelees het, het ook vervolging in die gesig gestaar. Lukas het Jesus se belofte dat Hy altyd by hulle sal wees en vir hulle die woorde sal gee om te sê, ingesluit. Wannneer hulle teenstand, verwerping en vervolging in die gesig gestaar het, kon hulle vol vertroue wees dat Jesus wat dieselfde verwerping deur mense in die gesig gestaar het, by hulle sou wees en hulle sou help.
Sonder opregte geloof is dit onmoontlik om hierdie swaarkry te verduur. Opregte geloof hou uit en volhard. Dit is geloof wat tot redding lei. Ons glo in Jesus en deur sy genade kan ons beproewinge, teenstand, verwerping, vervolging en selfs die dood verduur. As ons aanhou glo, sal ons die ewige lewe kry.
Baie van ons staar nie die dood in die gesig as gevolg van ons geloof nie, maar sommige wel. Sommige van ons sal eerstehands leer wat dit beteken om ons lewe te behou deur in ons geloof te volhard. Ons ewigheid is veilig as gevolg van wat Jesus gedoen het, maak nie saak wat met ons of rondom ons gebeur nie. Mag ons weet dat dit altyd die koste werd is om Jesus te volg en tot die einde toe te volhard.
Aangaande hierdie leesplan
In die Evangelie van Lukas vind ons 'n unieke beskrywing van Jesus se lewe. Lukas wys ons hoeveel Jesus sy mense raaksien, hulle ken en omgee vir hulle. Sluit by ons aan vir hierdie ses weke lange Bybelstudie wat ontwerp is om ons te help verstaan wie Jesus is, hoe Hy omgee vir sy mense en hoe dit lyk om Hom te volg.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lovegodgreatly.com/Afrikaans