Hy Sien, Hy Ken, Hy Gee Om — Die Evangelie van LukasVoorbeeld
Lees Lukas 22:1-38
SOAP Lukas 22:31-32
“Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.”
Oordenking
Simon Petrus het saam met Jesus gewandel. Jesus het ’n wonderwerk vir sy familie en vir sy besigheid gedoen. Petrus het albei hierdie dinge gelos om Jesus te volg.
Petrus het gesien hoe Jesus wonderwerke vir baie ander ook verrig. Hy het selfs gesien hoe Jesus voor sy eie oë van gedaante verander terwyl Hy met Moses en Elia praat. Petrus, soos die ander dissipels, het dikwels “min geloof” gehad, maar Petrus was die eerste dissipel in Lukas se Evangelie wat verklaar het dat Jesus die Messias is.
Selfs in sy laaste ure het Jesus vir Petrus gesorg. Selfs al het Hy geweet dat Petrus Hom na sy inhegtenisneming sou verlaat en verloën, het Jesus Petrus aangemoedig om sy broers te versterk. Jesus het vir hom gebid dat sy geloof nie sou faal nie.
Petrus het aan die versoeking toegegee. Hy het Jesus net ’n paar uur later verloën. Jesus het geweet dat dit sou gebeur en daarom het Hy Petrus gewaarsku en vir hom gesê dat Hy gebid het dat sy geloof nie sou faal nie. Ná Petrus se vernederende en pynlike val het hy ongetwyfeld Jesus se genadige woorde onthou. Dit het hom gehelp om nie hoop te verloor nie, maar om weer tot inkeer te kom. Deur God se antwoord op die gebed van sy Seun, het Petrus se geloof op die ou end nie gefaal nie. Ure voor sy inhegtenisneming, verhoor, kruisiging en dood het Jesus vir Petrus gebid. Jesus het na sy skape omgesien en seker gemaak dat hulle nie verlore bly nie.
Jesus, die Seun van God, die Verlosser van die wêreld, gee innig om vir jou. Hy gee om vir jou ewige verlossing en Hy smag daarna om ’n verhouding met jou te hê. Dit is nie al nie. Hy gee intiem en persoonlik vir jou om. Hy weet wat jy nodig het. Hy weet wat jy begeer. Hy weet selfs hoe jy in die toekoms sal misluk. Nie een van hierdie dinge of selfs jou mislukkings kan jou Verlosser daarvan weerhou om jou lief te hê en vir jou te bid nie. Hy gaan altyd agter sy eie aan, soos ’n herder een skaap soek wat verlore is. Hy sal nie ophou om jou hart te soek nie, maak nie saak hoe ver jy gedwaal het nie.
Terwyl ons daarna streef om met geloof in God te leef, mag ons die alomteenwoordige, getroue liefde van ons Verlosser, wat ons altyd soek en vergewe, onthou. Soos Hy met Petrus gedoen het, bid Hy altyd vir jou. Moenie dat jou vorige foute jou daarvan weerhou om saam met Hom te wandel nie.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
In die Evangelie van Lukas vind ons 'n unieke beskrywing van Jesus se lewe. Lukas wys ons hoeveel Jesus sy mense raaksien, hulle ken en omgee vir hulle. Sluit by ons aan vir hierdie ses weke lange Bybelstudie wat ontwerp is om ons te help verstaan wie Jesus is, hoe Hy omgee vir sy mense en hoe dit lyk om Hom te volg.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lovegodgreatly.com/Afrikaans