Op een van daardie dae, toe Jesus by die tempel besig was om die volk te leer en aan hulle die evangelie te verkondig, het die priesterhoofde en die skrifgeleerdes saam met die familiehoofde nader gestaan en Hom gevra: “Sê vir ons, met watter gesag doen u hierdie dinge? Wie is dit wat u hierdie gesag gegee het?”
Hy antwoord hulle: “Ek gaan julle ook iets vra, en julle moet My dan sê: Die doop van Johannes – kom dit van God of van mense af?”
Hulle redeneer toe onder mekaar: “As ons sê: ‘Van God af,’ sal hy sê: ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’ En as ons sê: ‘Van mense af,’ sal die hele volk ons stenig, want hulle is daarvan oortuig dat Johannes 'n profeet is.”
Toe antwoord hulle dat hulle nie weet waar dit vandaan kom nie.
Daarop sê Jesus vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.”
Verder het Jesus aan die volk hierdie gelykenis vertel: “Daar was 'n man wat 'n wingerd aangeplant en dit aan boere verhuur het. Daarna was hy 'n hele ruk weg van die huis af. Toe dit tyd was daarvoor, stuur hy 'n slaaf na die boere toe om sy deel van die wingerd se opbrengs te gaan haal. Maar die boere het die slaaf geslaan en met leë hande weggejaag. Die eienaar het weer geprobeer en 'n ander slaaf gestuur. Maar hulle het hierdie een ook geslaan en uitgeskel en met leë hande weggejaag. Die eienaar het nog 'n keer geprobeer en 'n derde slaaf gestuur. Hulle het hom geslaan dat die bloed loop, en hom uit die wingerd uitgegooi.
“Toe sê die eienaar van die wingerd: ‘Wat moet ek nou doen? Ek sal my geliefde seun stuur. Miskien sal hulle hom ontsien.’ Maar toe die boere hom sien, het hulle onder mekaar geredeneer: ‘Dit is die erfgenaam dié. Kom ons slaan hom dood, dan is die erfenis ons s'n.’ Toe gooi hulle hom uit die wingerd uit en slaan hom dood. Wat sal die eienaar van die wingerd dan met hulle doen? Hy sal kom en daardie boere om die lewe bring en die wingerd vir ander mense gee.”
Dié wat dit gehoor het, sê toe: “Nee, dit moenie gebeur nie!”
Maar Jesus het hulle aangekyk en gesê: “Wat beteken hierdie Skrifwoord dan:
“ ‘Die klip wat deur die bouers afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword’ ?
Elkeen wat op hierdie klip val, sal verpletter word;
elkeen op wie hy val, sal hy vermorsel.”
Die skrifgeleerdes en die priesterhoofde het besef dat Jesus met hierdie gelykenis op hulle gesinspeel het. Daarom wou hulle Hom sommer daar en dan gevange neem, maar hulle was bang vir die volk.
Hulle het hulle kans afgewag. Toe stuur hulle geheime agente wat hulle as opreg voorgedoen het, om Jesus op een of ander uitspraak te probeer vastrek sodat hulle Hom aan die owerheidsgesag van die goewerneur kon uitlewer. Hulle vra Hom toe: “Meneer, ons weet dat u in u prediking en onderrig regsinnig is. U let nie op die aansien van persone nie. U is getrou aan die waarheid, en so maak u die wil van God bekend. Is dit reg dat ons aan die keiser belasting betaal, of is dit nie?”
Maar Jesus het deur hulle slimstreek gesien en vir hulle gesê: “Wys vir My 'n muntstuk. Wie se kop en naam is daarop?”
Hulle antwoord: “Die keiser s'n.”
Toe sê Hy vir hulle: “Nou ja, gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.”
Hulle kon dit nie regkry om Hom voor die volk vas te trek op iets wat Hy gesê het nie. En verwonderd oor sy antwoord, het hulle maar stilgebly.
'n Aantal Sadduseërs – dit is die mense wat ontken dat daar 'n opstanding uit die dood is – kom toe nader en vra vir Jesus: “Meneer, Moses het vir ons voorgeskryf: As iemand 'n getroude broer het wat kinderloos sterwe, moet hy met sy broer se weduwee trou en vir sy broer kinders verwek. Nou was daar sewe broers. Die oudste het getrou en kinderloos gesterwe. Ook die tweede en die derde het met die weduwee getrou en kinderloos gesterwe, en so het dit met al sewe gegaan. Daarna het die vrou ook gesterwe. Die vrou nou, wie se vrou word sy met die opstanding? Al sewe het haar mos as vrou gehad.”
Jesus sê vir hulle: “In hierdie wêreld trou die mense met mekaar, maar dié wat waardig geag is om deel te hê aan die toekomstige wêreld en aan die opstanding uit die dood, trou daar nie meer nie. Hulle kan ook nie meer sterwe nie; hulle is soos die engele. Hulle is kinders van God, omdat hulle uit die dood opgestaan het. Dat die dooies opgewek word, het Moses ook aangedui waar hy in die gedeelte oor die doringbos praat van ‘die Here, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob’ . Hy is nie 'n God van dooies nie maar van lewendes, want by Hom leef hulle almal.”
Toe sê sommige van die skrifgeleerdes: “Meneer, u het goed geantwoord.”
Hulle het nie meer gewaag om Hom 'n enkele vraag te stel nie.
Maar Jesus het vir hulle gevra: “Hoe kan hulle sê dat die Christus die seun van Dawid is? Dawid sê tog self in die boek van die Psalms:
“Die Here het vir my Here gesê:
Sit aan my regterhand
totdat Ek jou vyande
aan jou onderwerp het.
“Dawid noem Hom dus ‘Here’; hoe kan Hy dan sy seun wees?”
Terwyl die hele volk na Jesus luister, sê Hy vir sy dissipels: “Pas op vir die skrifgeleerdes, wat graag met hulle deftige klere aan rondstap. Hulle hou van die begroetings op straat, die voorste banke in die sinagoges en die ereplekke by die maaltye. Dit is hulle wat die huise van die weduwees inpalm en vir die skyn lang gebede opsê. Hulle sal baie swaar gestraf word.”