'n Wonder sonder Tydsgrense | 'n Leesplan vir Kersfees deur New Life Church Voorbeeld

Timeless Wonder | a Christmas Reading Plan From New Life Church

DAG 8 VAN 19

Dag 8

Pyn kan mense snaakse dinge laat doen. By die aanvang van 'n terugslag, hetsy fisiek of emosioneel, is die mense om ons gewoonlik medelydend en vol begrip. Soos die nuutjie oorwaai, kan deernis vervaag en aannames wortelskiet. Het ons dalk iets gedoen om die situasie te veroorsaak? Is dit 'n straf? Word ons net deur die Here misgekyk?

Elisabet en Sagaria het jare van onvrugbaarheid beleef. Hulle het nie net soos baie paartjies na 'n kind verlang nie, maar in hul tyd is daar neergekyk op die onvrugbares, wat tot hul hartseer bygedra het. Die pyn het voortgeduur lank ná die eerste keer dat hulle besef het dat hulle nie 'n kind — soos hulle gehoop het — sou hê nie.

Hoe stap ons met integriteit en eerlikheid deur die pyn wanneer tydperke jare of selfs dekades duur?

Elisabet en Sagaria het getrou gebly aan hul hoop op 'n kind (so pynlik as wat dit moes wees om te sien dat dit dag na dag onvervuld was) en hul rol as 'n priesterlike familie. Hulle wys ons dat teleurstelling en hoop in 'n gebroke wêreld sáám kan bestaan​. Ons kan die Here met ons lewens vertrou — selfs wanneer ons nie verstaan ​​hoekom ons pyn het nie — want Hy is die Here.

Eendag het hul toekomsgebede hul huidige werklikheid geword. Die engel het vir Sagaria gesê dat God hulle gebede vir 'n kind gehoor het. Wat vir die mens onmoontlik gelyk het, het God skielik bewaarheid. Wanneer die wêreld jou redes gee om alle hoop te verloor, onthou dat groot genade deur die geskiedenis heen oor en oor voorafgegaan is deur uitroepe van groot pyn. Dieselfde God wat vir Israel in slawerny, vir Dawid op sy vlug om van Saul weg te kom en die hartseer van Elisabet gehoor het, is dieselfde God wat na elke woord op jou lippe luister.

Hierdie week onderdruk ons nie ons teenswoordige pyn nie. Nie omdat ons ons oorgee aan bejammering nie, maar omdat ons huidige pyn ons die geleentheid bied om met die Here kontak te maak en ons geloof te bely (hoe groot of klein dit ook al mag wees) dat Hy aan sy Woord getrou is, en dat daar vreugde in ons beproewings is. In plaas daarvan om ons omstandighede te sien as ongemak om te vermy, kom ons streef daarna om die vertroosting te soek wat God aan diegene kan bied wat Hom van ganser harte soek.

Aksiestap: Wat is die teenswoordige pyn wat jy in en om jou lewe sien? Moenie opgee op jou gebede en strewe na die vertroosting van God se teenwoordigheid nie. Plaas opnuut jou vertroue in die Here deur vandag weer daardie seer in gebed na Hom toe te bring.

Dag 7Dag 9

Aangaande hierdie leesplan

Timeless Wonder | a Christmas Reading Plan From New Life Church

Hierdie 3-weeklange leesplan neem ons deur die tydlose wonder van hoe God deur sy Seun, Jesus, na ons toe gekom het. Die leesplan is ontwerp om op 'n Maandag te begin sodat elke naweek 'n korter inhoud sal insluit wat bedoel is vir rus en nadenke gedurende die vakansietyd. Sluit by ons aan terwyl ons bestudeer wat die geboorte van Christus vir ons toekoms, hede en verlede beteken.

More

Baie dankie aan Hillside Church wat hierdie leesplan aan ons voorsien het. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://newlifechurch.tv