'n Wonder sonder Tydsgrense | 'n Leesplan vir Kersfees deur New Life Church Voorbeeld

Timeless Wonder | a Christmas Reading Plan From New Life Church

DAG 12 VAN 19

Dag 12

Elke Kersfees sing ons liedjies vir Immanuel, God by ons. Johannes skryf oor hierdie idee met duidelikheid en verwondering in sy Evangelie.

“God by ons.”

Die Woord het vlees geword, by sy skepping aangesluit — midde-in sy selftoegediende deurmekaarspul — en onder ons gewoon. Hy was ten volle God, ten volle mens, en geheel en al omring deur die mensdom se pyn.

“In die begin…”

Alhoewel Johannes sy boek baie soos Genesis begin deur aan die skepping te herinner, herinner hy vinnig ook aan die vervulling van God se belofte aan Eva tydens die sondeval. Die een wat die vyand sou vermorsel, het opgedaag. Wat 'n fluistering van God se heerlikheid en genade was, het nou 'n wandelende, asemhalende, lewende openbaring van verlossing geword. Almal wat sou glo, is nou in die lig verwelkom, wat nog nooit kón en ook nooit oorwin sal kán word nie. Ons is kinders van God, mede-erfgename van Christus, ten volle verlos.

Dit beteken egter nie dat ons alles uitgepluis het nie. Ons word nie perfek as ons glo nie; ons het eerder die bedekking van genade — onverdiende guns — want Jesus het dit vir ons verwerf. In plaas van skuld as gevolg van bewyse teen ons, is ons onskuldig. Ons vrye wil gaan ons steeds geleenthede gee om elke dag weer te struikel, maar wanneer ons kies om weer in Jesus te glo en probeer om in die lig van die waarheid te wandel, ervaar ons die genade wat God deur Christus gee — nét hier, nóú.

Dink aan die laaste “slegte dag” wat jy gehad het. Herhaal die hoofmomente van daardie dag in jou gedagtes, en maak Jesus deel van die dag. Wanneer ons eerder sou jok as om ons foute of vrese te erken, sou Hy ons sagkens bestraf en ons herinner om die Vader se wil te gehoorsaam deur eerder die lig van die waarheid te kies. Ons sal ook sien hoe Hy ons na 'n stil ruimte nooi om tyd af te staan om met God te praat, eerder as om na die chaos in die media te luister. Ons sal beslis ook vind dat Hy saam met ons in die gange van dokters se spreekkamers en hospitale loop, ons in ons pyn vertroos en ons stukkende plekke genees.

Sien jy die heerlikheid van Jesus se teenwoordigheid om jou? Die volheid van genade en waarheid? Hy was daar van die begin af. Kolossense 1:16b en 17b sê vir ons: "God het deur Hom [Jesus] alles geskep wat in die hemel en op die aarde is ... en deur Hom [Jesus] bly alles in stand." Die Woord is almagtig, maar tog ten volle in hierdie deurmekaar lewe teenwoordig. Hy het nie gekom ter wille van verwantskap en om te kyk hoe dit in ons wêreld was nie. Hy het geweet hoe die skepping in die begin gelyk het en hoe dit nou na die sondeval lyk. Hy het nie net gekom om ons in ons pyn te vertroos nie, maar ook om die sonde te oorwin wat dit [die pyn] veroorsaak het. Pyn maak plek vir vertroosting as ons die genade en waarheid van Jesus kies.

Aksiestap: Bid dwarsdeur jou dag en vra vir God om jou aan sy Woord en teenwoordigheid in jou lewe te herinner. Gee enige seer of frustrasie oor wat jou van eenheid met Hom weerhou. Hy is getrou om jou te ontmoet waar jy is en jou op sy weë vorentoe te lei!

Dag 11Dag 13

Aangaande hierdie leesplan

Timeless Wonder | a Christmas Reading Plan From New Life Church

Hierdie 3-weeklange leesplan neem ons deur die tydlose wonder van hoe God deur sy Seun, Jesus, na ons toe gekom het. Die leesplan is ontwerp om op 'n Maandag te begin sodat elke naweek 'n korter inhoud sal insluit wat bedoel is vir rus en nadenke gedurende die vakansietyd. Sluit by ons aan terwyl ons bestudeer wat die geboorte van Christus vir ons toekoms, hede en verlede beteken.

More

Baie dankie aan Hillside Church wat hierdie leesplan aan ons voorsien het. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://newlifechurch.tv