'n Wonder sonder Tydsgrense | 'n Leesplan vir Kersfees deur New Life Church Voorbeeld

Timeless Wonder | a Christmas Reading Plan From New Life Church

DAG 15 VAN 19

Dag 15

Kersfees laat ons dink aan 'n baba wat in 'n krip gebore is. Die behoefte aan Kersfees het egter baie vroeër ontstaan. Kersfees het eintlik begin in 'n tuin waar 'n slang 'n leuen vertel het, 'n vrou en 'n man 'n stukkie van 'n vrug geëet het, en God 'n belofte gemaak het.

Wanneer ons dieper delf, sal ons sien die verhaal begin selfs vroeër — met 'n kosmiese konflik — toe Lucifer, die engel van die hemel, homself mislei het om te dink dat hy op een of ander manier vir God in prag kon oorskadu. God het hom vir sy misdaad permanent uit die hemel verban, maar dit was nie die einde nie.

In Genesis 3 het die stryd om heerlikheid voortgegaan. Die Satan het dieselfde idee in Eva se gedagtes geplant wat sy eie verhouding met God verbreek het. Hy het vir hulle gesê: "... julle [sal] soos God wees ..." (Genesis 3:5b). Hy het die omgewing van vertroue wat God in die tuin in Genesis 1 geskep het, met 'n slinkse leuen gemanipuleer en ontwrig: “... Julle sal beslis nie sterf nie ... as julle van daardie boom eet ... sal julle soos God wees ...” (Genesis 3:4-5). Hy is besig om vir hulle te sê : “Jy het God nie nodig nie. Jy kan jou eie god wees.”

Hulle het die leuen geglo.

Sonde het toe die wêreld binnegekom. Die verhouding tussen God en mens is verbreek, en God het almal vervloek wat betrokke was. Hy het eers die Satan vervloek, en voordat die straf vir Adam en Eva selfs sy lippe verlaat het, is 'n belofte van oorwinning oor die slang bekendgemaak.

Toe God gesê het daar sal vyandskap tussen die vrou en die duiwel se nageslag wees (sien Genesis 3:15), het Hy die volgende verklaar: "... Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt" (Genesis 3:15b). Dit was gevegswoorde. Dit was 'n belofte wat op die dood uitloop. 'n Gekneusde hakskeen is skaars 'n besering, maar 'n hou teen die kop is 'n doodskoot.

Hoe gewelddadig dit ook al mag wees, dít is die belofte van Kersfees. Christus, ons Oorwinnaar, sal kom en Hy sal die kop van die vyand vermorsel.

Die verhouding tussen God en die mens wat in die tuin verbreek is, sou saad skiet in 'n krip, aan 'n ruwe kruis die grond oopbreek en in 'n leë graf luisterryk blom.

Hoewel Kersfees 'n tyd kan wees wanneer ons aan ons eie gebroke en moeilike aardse verhoudings herinner word, is die viering van die koms van Jesus die perfekte tyd om te onthou hoe lank gelede God reeds die verhouding met ons herstel het. Jesus het aarde toe gekom om God se belofte na te kom en aan ons terug te gee wat die duiwel gesteel het.

Aksiestap: Terwyl jy hierdie Kersfees oor die genadige aard van ons God nadink, is daar 'n verhouding in jou lewe wat versoening en vergifnis nodig het?

Dag 14Dag 16

Aangaande hierdie leesplan

Timeless Wonder | a Christmas Reading Plan From New Life Church

Hierdie 3-weeklange leesplan neem ons deur die tydlose wonder van hoe God deur sy Seun, Jesus, na ons toe gekom het. Die leesplan is ontwerp om op 'n Maandag te begin sodat elke naweek 'n korter inhoud sal insluit wat bedoel is vir rus en nadenke gedurende die vakansietyd. Sluit by ons aan terwyl ons bestudeer wat die geboorte van Christus vir ons toekoms, hede en verlede beteken.

More

Baie dankie aan Hillside Church wat hierdie leesplan aan ons voorsien het. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://newlifechurch.tv