'n Wonder sonder Tydsgrense | 'n Leesplan vir Kersfees deur New Life Church Voorbeeld
Inleiding
Jesus het aarde toe gekom om die mensdom van hul sonde te verlos. Hy het genade op genade betoon in elke tydperk van ons lewens, en elke Kerstyd besin ons met verwondering en ontsag oor hoe Hy Homself verneder het om nader aan ons te kom. Hierdie leesplan is geskryf om jou deur die uitwerking van Jesus se geboorte op jou verlede, hede en toekoms te lei. Daar is geen aspek van jou lewe wat sy tydlose wonder nie kan bereik en gesond maak nie!
Dag 1
Het jy al ooit daaraan gedink hoekom Jesus gesê het dit sou beter wees as die Heilige Gees kom as dat Hy [Jesus] liggaamlik by ons is? Kersfees is die storie van die Seun van God wat mens geword het en saam met ons woon. Immanuel — God by ons. Die inwoning van die Heilige Gees is Hy wat kom om in ons te woon. Die Heilige Gees is Christus se eie Gees, die Wonderbare Raadsman wat in ons woon en ons bemagtig om soos Jesus te lewe.
William Temple het dit as volg verduidelik: “Dit help nie om vir my 'n toneelstuk soos Hamlet of Romeo en Juliet te gee en vir my te sê om so 'n toneelstuk te skryf nie. Shakespeare kan dit doen. Ek kan nie. Dit gaan ook nie help om vir my 'n lewe soos Jesus s'n te wys en vir my te sê om so te lewe nie. Jesus kon dit doen. Ek kan nie. As die briljantheid van Shakespeare egter in my kon kom woon, dan sou ek sulke toneelstukke kon skryf.”* Ons het die gawe van die Heilige Gees wat ons innerlik lei om te lewe soos Christus sou.
Ten spyte van hierdie waarheid is so baie van ons, veral gedurende Kerstyd, gevul met kommer oor die toekoms. Ons vrae kan ons verteer. Wie en wat sal ek word? Wat sal ek bereik? Wat sal my nalatenskap wees? Ons het vergeet wat die Bybel die seël van God se belofte noem. Hierdie seël is 'n wettige simbool van eienaarskap. Deur sy Gees word ons gemerk as seuns en dogters wat beveilig, beskerm en versorg word. Hy het ons die "gees van aanneming" gegee. Alles wat Hy het, behoort ook aan ons. Dit is ons erfenis uit genade en ons kan dit nie opgebruik nie. Ons belofte vir die hede is dat Hy elke oomblik by ons is. Ons belofte vir die toekoms is dat Hy wat die goeie werk in ons begin het, getrou sal wees om dit te voltooi. Hy het nog nooit voorheen misluk nie en Hy sal ook nie nou misluk nie.
Dus, wanneer ons voel angstigheid bekruip ons, moet ons net vir 'n wyle stilstaan en die Heilige Gees vra om ons te help om die oorsprong daarvan te identifiseer. Vrees en twyfel het dieselfde oorsprong sedert die tuin van Eden. Ons moet onsself die vraag vra: "Watter leuen wat my vrede steel, glo ek?” Die Wonderbare Raadsman en Prins van Vrede is dieselfde wese en Hy lei ons terug na Hom. Hy is Immanuel, God binne ons.
Aksiestap: Kan jy enige areas van angs identifiseer waar jy dalk toelaat dat 'n gees van vrees oor die toekoms jou kwel? Nooi die Heilige Gees om jou te lei, raad te gee en te herinner aan wat die waarheid is.
*Aanhaling uit Basic Christianity deur John R. W. Stott teks vir die inhoud van dag een se oordenking.
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie 3-weeklange leesplan neem ons deur die tydlose wonder van hoe God deur sy Seun, Jesus, na ons toe gekom het. Die leesplan is ontwerp om op 'n Maandag te begin sodat elke naweek 'n korter inhoud sal insluit wat bedoel is vir rus en nadenke gedurende die vakansietyd. Sluit by ons aan terwyl ons bestudeer wat die geboorte van Christus vir ons toekoms, hede en verlede beteken.
More