'n Wonder sonder Tydsgrense | 'n Leesplan vir Kersfees deur New Life Church Voorbeeld
Dag 2
Dit gebeur dikwels dat ons gedurende die Kerstyd so vasgevang word in alles wat gedoen moet word dat ons, as ons nie versigtig is nie, die stem van God dalk kan mis. Ons raak so besig met ons eie planne en doenlysies dat ons moontlik hierdie oomblikke gaan misloop. Ons wil nie onderbreek word nie! Ons het dinge om te doen! Dikwels maak God egter seker Hy kry ons aandag júís deur ons te onderbreek.
In vandag se leesstuk sien ons dat Ananias deur God onderbreek is. Ek is seker hy het sy dag beplan — en om die boodskap van God aan 'n moordenaar te bring, was sekerlik nie deel daarvan nie. Hy is egter deur God gevra om vir Saulus, die moordenaar van Christene, te gaan soek en hom te help om sy sig te herwin. Toe Ananias die bevel gekry het om na Saulus toe te gaan, het hy gevra: "Is U seker, Here?” Weet God dan nie dat Saulus besig is om die volgelinge van Jesus te vervolg en vermoor nie? Die Here se antwoord was: “Gaan in elk geval.”
Jy gaan heel waarskynlik hierdie Kerstyd oomblikke beleef wanneer jy in die versoeking gaan kom om te vra: "Is U seker, Here?” Hy kan jou dalk vra om jou eggenoot te vergewe — al was hy/sy verkeerd. Om die vervreemde gesinslid vir ete te nooi — al gaan dit dalk ongemaklik wees. Om jou ouers te vergewe — al verdien hulle dit nie.
Volg Jesus lank genoeg, dan sal jy agterkom dat dit nie ongewoon vir God is om ons te vra om dinge te doen wat teen ons wil is nie. Gewoonlik is dit ongerieflik, 'n verleentheid of selfs gevaarlik. Gehoorsaamheid en gerief kan amper nooit in dieselfde asem genoem word nie. Gehoorsaamheid beteken om die stem van God te hoor en daarop te reageer. Dit is nie regtig gehoorsaamheid wanneer dit jou eie idee was nie. Gehoorsaamheid behels 'n botsing tussen wat ék wil doen en wat God wil hê ek moet doen. Dit is om ons eie agendas opsy te skuif sodat ons wil met God se wil versoen kan raak, omdat ons vertrou dat Hy 'n beter plan het.
Omrede Ananias gehoorsaam was aan God en sy lewe in gevaar gestel het om vir Saulus op te soek, was hy daar toe Saulus met die Heilige Gees vervul is en het hy self gesien hoe die skille van Saulus se oë afgeval het. Toe het Ananias vir Saulus gedoop! Ananias was 'n belangrike skakel in een van die mees geloofsbepalende bekeringswonderwerke en herskeppings in die geskiedenis: van Saulus na Paulus. Paulus het een van die grootste Christelike sendelinge en teoloë van alle tye geword en 13 van die 27 boeke in die Nuwe Testament geskryf. Nogtans, Ananias se gehoorsaamheid het Paulus se hele, wonderbaarlike bediening voorafgegaan. Jy sal nooit weet wat God met één daad van gelowige gehoorsaamheid kan verrig nie.
Aksiestap: Is daar enige iets wat God jou gevra het om te doen waaraan jy nog nie gehoorsaam was nie? Watter stap kan jy vandag neem om gehoorsaam te wees?
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie 3-weeklange leesplan neem ons deur die tydlose wonder van hoe God deur sy Seun, Jesus, na ons toe gekom het. Die leesplan is ontwerp om op 'n Maandag te begin sodat elke naweek 'n korter inhoud sal insluit wat bedoel is vir rus en nadenke gedurende die vakansietyd. Sluit by ons aan terwyl ons bestudeer wat die geboorte van Christus vir ons toekoms, hede en verlede beteken.
More