Maak Ontmoetings Met God die Spilpunt Van Jou LeweVoorbeeld
Lewe vanuit Versoening
Die feit dat God — in al sy heiligheid en liefde — bereid is om in die mens se hart te woon, is die mees onverstaanbare begrip van die Christelike geloof. Ons is deur die bloed van Jesus met God versoen. Niks kan ons meer van Hom skei nie. Hy is nader aan ons as 'n asemteug. Hy is meer werklik as die grond onder ons voete.
Die Nuwe Testament is met waarhede oor ons versoening met God gevul. In Galasiërs 2:19b-20 staan geskryf: “... ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.” In 1 Korintiërs 6:19-20 staan geskryf: “Of besef julle nie dat julle liggaam 'n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.”
Romeine 6:4 sê: "Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so 'n nuwe lewe kan lei."
Kolossense 1:27 stel dit soos volg: "God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe seënryk en heerlik hierdie geheimenis vir die nasies is. Die inhoud daarvan is: Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid."
Daar is geen enkele oomblik wat God nie by jou is nie. Hy is in jou en by jou deur elke beproewing, sukses, oorwinning en neerlaag. Hy is vír jou en tot jou beskikking die hele dag — elke dag. God bly by ons, selfs wanneer ons sondig. God bly in ons, selfs wanneer ons opstandig is. Al wat ons te doen staan, is om te leer hoe om hierdie versoening toe te laat om in elke area van ons lewens deur te dring. Om ons redding te bewerkstellig, beteken om met ons ou sondige self te breek en te lewe vanuit ons nuwe identiteit wat met Christus versoen is.
Om waarlik 'n ontmoeting met God die spilpunt van ons lewens te maak, beteken dat ons moet leer om te erken dat Hy alreeds by ons is. Hy is nie 'n God wat op 'n afstand staan en van sy hemelse troon na ons moet neerdaal wanneer ons besluit om vir Hom tyd in te ruim nie. Hy is nie 'n God wat net in kerke, by byeenkomste, evangeliebediening of geestelikes teenwoordig is nie. Hy is die God wat in jou woon, jou liefhet, van jou hou en begeer om in voortdurende gemeenskap met jou te wees.
Ruim vandag tyd in om jou denke met die waarheid van jou versoening met God te vernuwe. Vra Hom om sy nabyheid aan jou te openbaar sodat jy vandag “... ook so 'n nuwe lewe kan lei” (Romeine 6:4). Maak plek in jou hart en verstand om die teenwoordigheid van God toe te laat om in elke area van jou lewe deur te dring. Mag vandag kenmerkend van 'n ingrypende verandering in jou lewe wees soos wat God self begin beweeg, werk, seën en spreek in alles wat jy doen.
Gebed
1. Oordink jou versoening met God. Vernuwe jou denke deur jou vertroue in die Woord te plaas en nie meer in jou gevoelens of vorige ervarings nie.
“...ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê" (Galasiërs 2:19b-20).
“Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom” (2 Korintiërs 5:17).
“Of besef julle nie dat julle liggaam 'n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie" (1 Korintiërs 6:19).
2. Watter areas van jou lewe word nie deur die versoening met die Heilige Gees gekenmerk nie? In watter opsigte lewe jy asof God nie by jou is nie? Waarna strewe jy en waarvoor werk jy wat alreeds in Jesus Christus aan jou behoort?
3. Vra die Heilige Gees om sy teenwoordigheid te openbaar. Vra Hom om jou te help om iemand te wees wat eerder ontvang as om na iets te streef, en eerder rus as swoeg.
“Bedaar en erken dat Ek God is ..." (Psalm 46:11).
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
'n Enkele keuse rakende wié of wát die spilpunt van jou lewe is, het 'n diepgaande invloed op hierdie lewe. Hierdie keuse lei ons op 'n pad van besluite wat ons menswees vorm: wie ons is, hoe ons voel, aan wie of wat ons waarde heg en wat ons teen die einde van ons lewensdae sal bereik. Wanneer die eie ek of die dinge van hierdie wêreld die spilpunt van ons lewens is, lei dit net na vernietiging.
More