Maak Ontmoetings Met God die Spilpunt Van Jou LeweVoorbeeld
Die Vrug van Geanker Wees
Ons probeer gereeld om onsself te dwing om vrug te dra — soms vanuit die opregte begeerte om goed te doen en God deur ons werk te eer — maar sonder om tyd vir rus opsy te sit. Deur te rus en in ons hemelse Vader geanker te bly, kan ons die noodsaaklike geestelike voedingstowwe ontvang. 'n Tak wat nie meer aan 'n appelboom vas is nie, kan — net soos ek en jy — nie goeie vrugte dra nie. Ek kan nie goeie werke doen nie sonder om voortdurend in God se liefde, genade en teenwoordigheid geanker te wees. Indien ons 'n ontmoeting met God nie waarlik die spilpunt van ons lewens maak nie, sal ons nooit die vrug dra waarvoor God ons geskep het nie. In Johannes 15:1-5 leer Jesus ons die volgende:
"Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra. Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het. Julle moet in My bly en Ek in julle. 'n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie. Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie."God se begeerte vir ons is dat ons daagliks in Hom sal bly. Hoe verstommend is dit! Ek en jy kan onsself daagliks aan ons hemelse Vader se perfekte, goeie en magtige wingerdstok vasheg. Ons kan daagliks wakker word, ons harte vir God oopmaak en vanuit die verbond leef wat Jesus se kragtige offer vir ons moontlik gemaak het.
Ons moet liewer tyd daaraan wy om ons hemelse Vader se liefde te ontvang, as om onmiddellik uit die bed op te spring en goeie werke te probeer doen. In plaas daarvan om ons eie geleenthede te skep om God te dien, moet ons Hom toelaat om ons te lei na dit wat Hy alreeds vir ons beplan het. Ons moet ons eie pogings om mense na Jesus te lei, opsy skuif en eerder openlik en eerlik teenoor andere optree sodat hulle deur ons opregtheid sal ervaar dat God na 'n ontmoeting met diegene hunker wat gebroke is en Hom nodig het. In plaas daarvan dat ons lewe asof God ons aan ons eie genade oorgelaat het, moet ons die eenheid met die Heilige Gees voortdurend erken en daardeur sy liefdevolle teenwoordigheid toelaat om die kern te wees van alles wat ons doen.
Jakobus 2:26 leer ons: “'n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood.” Verbind jouself vandag aan Jesus as die wonderlike wingerdstok. Maak 'n ontmoeting met Hom die spilpunt van jou bestaan. Slegs deur in God geanker te bly, sal jou geloof werke voortbring wat tasbaar, ewig en met die lewensveranderende krag van die Gees van God vervul is. Mag jy vandag die vryheid en liefde ontdek wat deur voortdurende eenheid met jou hemelse Vader vir jou beskikbaar is.
Gebed
1. Dink na oor die belangrikheid daarvan om in die wingerdstok geanker te bly. Laat toe dat die Skrif vandag 'n begeerte in jou opwek om by God rus te vind.
“Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde” (Psalm 46:11).
“... Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie” (Johannes 15:5).
“Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan júlle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus” (1 Johannes 1:3).
2. In watter opsig het jy probeer om goeie werke te doen sonder om in die teenwoordigheid van jou Skepper geanker te bly? Watter areas van jou lewe benodig 'n sterker verbintenis met die liefde van God?
3. Staan tyd daaraan af om in God se teenwoordigheid rus te vind. Wees in Hom geanker. Moenie dink aan alles wat vandag vir jou voorlê nie. Daar sal oorgenoeg tyd wees om aan jou verpligtinge en verhoudings aandag te gee. Vestig al jou aandag op die werklikheid van God se nabyheid en maak jou hart ontvanklik vir al die liefde wat Hy op hierdie oomblik aan jou bied.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
'n Enkele keuse rakende wié of wát die spilpunt van jou lewe is, het 'n diepgaande invloed op hierdie lewe. Hierdie keuse lei ons op 'n pad van besluite wat ons menswees vorm: wie ons is, hoe ons voel, aan wie of wat ons waarde heg en wat ons teen die einde van ons lewensdae sal bereik. Wanneer die eie ek of die dinge van hierdie wêreld die spilpunt van ons lewens is, lei dit net na vernietiging.
More