Maak Ontmoetings Met God die Spilpunt Van Jou LeweVoorbeeld

Centering Your Life Around Meeting With God

DAG 6 VAN 7

Maak van Elke Geleentheid Gebruik

In Efesiërs 5:15-16 kry ons die volgende waarskuwing: “Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in 'n goddelose tyd.” Ons tyd hier op aarde is van uiterste belang. Die dae wat ons so ligsinnig deurbring deur aardse dinge na te jaag, sal ons nooit weer kan terugkry nie. Verkwiste tyd buite God se doel vir ons lewens — om liefde te ontvang en uit te deel — kan nooit weer ingehaal word nie. Ons tyd op aarde is té beperk en té belangrik om op bekommernisse, spanning, sonde en wêreldse belange te verkwis. Ons moet leer om die ewigheidswaarde van 'n ontmoeting met God die spilpunt van ons lewens te maak — dan sal ons die lewe ten volle geniet. Juis daarom sê Jakobus 4:13-15:

"Kom nou, julle wat sê: 'Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en 'n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.' Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar 'n damp wat 'n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn. Julle moet eerder sê: 'As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.'"

Een van die beste maniere om die ingesteldheid van jou hart te ondersoek, is om te let op hoe jy jou tyd deurbring. Wanneer jy al jou tyd daaraan wy om te werk vir, en te dink aan die dinge van hierdie wêreld, kan jy daarvan seker wees dat jy nog nie die openbaring van God se doel vir jou lewe ervaar het nie. Indien jy die meeste van die tyd net probeer om deur die dag te kom en geluk najaag — in plaas daarvan om die aangesig van ons hemelse Vader te soek waar jy volhoubare, alles oortreffende vreugde kan vind — kan jy seker wees dat jy nog nie jou lewe volkome aan ons Koning oorgegee het nie.

Die goeie nuus oor die aard van tyd is dat dit ons s'n is om deur te bring net soos ons wil. Ons kan nou, op hierdie oomblik, besluit om die beste gebruik te maak van die tyd tot ons beskikking deur binne God se wil te leef soos dit vir ons in die Skrif geopenbaar word. Ons kan nou, onmiddellik, die keuse maak om nie meer ons kosbare minute op verganklike en tydelike dinge te mors nie, maar om eerder ons dae deur te bring deur in die blywende, ewige en vrugdraende doel van ons hemelse Vader te belê.

In Psalm 90:12 staan geskryf: “Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom.” God begeer om ons te leer hoe om ons dae sinvol te gebruik. Hy begeer om aan ons wysheid te skenk sodat ons 'n ontmoeting met Hom die spilpunt van ons lewens sal maak. God self is binne-in jou, gereed om jou na 'n doelgerigte lewenstyl te lei. Neem vandag die besluit om jou hart en verstand oop te stel vir die Leermeester — die Heilige Gees — en lewe volgens die wil van God. Mag jy vrede en vreugde vind en vandag 'n doelgerigte lewe lei.

Gebed

1. Oordink die noodsaaklikheid daarvan om jou tyd met wysheid te gebruik.

“Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in 'n goddelose tyd” (Efesiërs 5:15-16).

“Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom” (Psalm 90:12).

2. Vra die Heilige Gees om dit duidelik te maak hoe jy jou tyd verkwis het. Wees verseker dat God nie alles wat jy geniet, wil wegneem nie. Hy is nie gekant teen genot, vriende en partytjies nie. Hy is 'n vrolike God wat jou waarlik liefhet. Moenie blote godsdienstigheid met die hart van jou hemelse Vader verwar nie. Vertrou dat dit wat Hy wil hê jy moet verander, tot gevolg sal hê dat jou lewe vrug sal dra en met pret en tevredenheid gevul sal wees.

“Kom nou, julle wat sê: 'Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en 'n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.' Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar 'n damp wat 'n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn. Julle moet eerder sê: 'As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen'" (Jakobus 4:13-15).

3. Vra vir God om jou te help om vandag jou tyd met wysheid te gebruik. Vra Hom om jou te help om te volg waar Hy jou lei voordat jy vandag tegemoet gaan.

“Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur” (Johannes 16:7).

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Centering Your Life Around Meeting With God

'n Enkele keuse rakende wié of wát die spilpunt van jou lewe is, het 'n diepgaande invloed op hierdie lewe. Hierdie keuse lei ons op 'n pad van besluite wat ons menswees vorm: wie ons is, hoe ons voel, aan wie of wat ons waarde heg en wat ons teen die einde van ons lewensdae sal bereik. Wanneer die eie ek of die dinge van hierdie wêreld die spilpunt van ons lewens is, lei dit net na vernietiging.

More

Baie dankie aan First15 wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: https://www.first15.org/