Maak Ontmoetings Met God die Spilpunt Van Jou LeweVoorbeeld

Centering Your Life Around Meeting With God

DAG 5 VAN 7

Jesus is die Spilpunt

Die lewe, sterwe en opstanding van Jesus is die kern van die ewigheid. Hy is die allerbelangrikste, ewigheidsveranderende en mens-verlossende Seun van die lewende God. In Kolossense 1:15 staan geskryf: “Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping.”

Hebreërs 1:3 sê: "Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel."

Die Openbaring 19 beskryf die wederkoms van Jesus, en vers 16 sê: “Op sy klere, by sy heupe, was daar 'n Naam geskrywe: 'Die Koning van die konings en die Here van die heersers.'"

Om 'n ontmoeting met God die spilpunt van ons lewens te maak, beteken om in die onbeweeglike kern van die ewigheid gevestig te wees. Wanneer ons ontmoetings met Jesus die spilpunt van ons lewens maak, plaas ons die anker van ons hoop in die Koning van die konings en die Here van die heersers. Slegs Jesus is aan sy woord getrou. Slegs Jesus sal dit kan uitvoer wat Hy aan ons belowe het.

In 1 Johannes 2:17 staan geskryf: “En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.” Die wil van God is dat ons sy liefdevolle teenwoordigheid as die kern van ons lewens beskou. God se grootste gebod is dat ons Hom sal liefhê met alles wat ons doen. Ons lewens verskil van die wêreld om ons wanneer ons ontmoetings met Jesus as die spilpunt van ons lewens beskou, en dit lei ons op 'n nuwe pad na 'n vervulde lewe.

Die wêreld mag dit as dwaasheid beskou om al jou hoop in Jesus te plaas, maar daar is niks wat meer belangrik as dit kan wees nie. Moontlik lyk dit vreemd wanneer ons die gewone begeertes van die samelewing — soos byvoorbeeld gemak, status en bewondering — opsy skuif, maar dit is dié grootste keuse wat gemaak kan word. Jy dien 'n God wat was, wat is en wat weer sal terugkeer. Jy behoort aan 'n Koning wat sy lewe vir ons afgelê het sodat ons waarlik kan lewe. Die grootste vreugde, vrede en doel wat jy kan vind, is om alleenlik vir Jesus te dien. Die beste lewe wat jy kan leef, is 'n lewe van volkome toewyding aan die Koning wat oor die hele aarde heers.

Neem 'n oomblik om jouself weer volkome aan die Koning van die konings en die Here van die heersers te verbind. Draai weg van die beperkte perspektief en dink aan God se ewige, Goddelike koninkryk. Laat toe dat die waarheid van die Woord van God en sy liefde jou bemoedig om toewyding aan God bó selfvoldaanheid en aardse belange te kies. Mag jy vandag die blywende teenwoordigheid van ons Koning Jesus in jou lewe ervaar.

Gebed

1. Dink na oor die Skrifgedeelte wat oor Jesus as Persoon handel. Onthou dat Jesus lewe en dat Hy naby is. Hy is die lewende God, en die Woord sê dat jou lewe in Hom verborge is.

“... ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê” (Galasiërs 2:19b-20).

“Vir ons is 'n Seun gebore, aan ons is 'n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors" (Jesaja 9:5).

“Die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God” (Hebreërs 12:2).

2. In watter opsigte is Jesus nog nie die spilpunt van jou lewe nie? In watter opsig lei jy nog 'n wêreldse lewe eerder as 'n ewigheidsgerigte lewe?

3. Vra die Heilige Gees om jou te help om Jesus — en wie Hy was en is — die spilpunt van jou lewe te maak. Vra dat Hy jou met die kennis van sy teenwoordigheid en liefde vir jou sal vul. Maak jou hart ontvanklik vir die teenwoordigheid van Jesus. Vra Hom om jou bewus te maak van maniere waarop jy Hom vandag die spilpunt van jou lewe kan maak.

“Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit” (Kolossense 3:1).

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Centering Your Life Around Meeting With God

'n Enkele keuse rakende wié of wát die spilpunt van jou lewe is, het 'n diepgaande invloed op hierdie lewe. Hierdie keuse lei ons op 'n pad van besluite wat ons menswees vorm: wie ons is, hoe ons voel, aan wie of wat ons waarde heg en wat ons teen die einde van ons lewensdae sal bereik. Wanneer die eie ek of die dinge van hierdie wêreld die spilpunt van ons lewens is, lei dit net na vernietiging.

More

Baie dankie aan First15 wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: https://www.first15.org/